Die volle felheid van die Covid-19-pandemie het Suid-Afrika nou getref. Die koers waarteen mense die afgelope week geïnfekteer word en die skerp toename in die vraag na gespesialiseerde hospitaalbehandeling is die tsoenami wat ons verwag het.
Waarop ons minder voorbereid was, was die persoonlike tol wat dit eis. Covid-19 het skielik ’n gesig. Al hoe meer mense ken iemand wat iemand ken wat siek geword het, of moes reeds iemand in eie kring aan die dood afstaan.
Dis nie die politici wat in die voorste linie van hierdie storm veg nie, maar dapper gesondheidswerkers. Van hulle word nou verwag om ’n amper onmenslike besluit onder groot druk te neem: Wie gaan leef en wie gaan sterf?
Dis die soort besluite wat noodreddingswerkers op die oorlogsveld of in ’n rampgebied moet neem. Maar ons hospitale het nou oornag slagvelde geword. Die ramp is hier.
In dié drukkoker moet hospitaalwerkers professioneel funksioneer, terwyl hulle boonop op ’n persoonlike vlak onder bykomende druk geplaas word. Hulle word in die uitvoering van hul taak blootgestel aan die moontlikheid om self deur die koronavirus geïnfekteer te word. Daarby bestaan die vrees dat hulle ’n geliefde by die huis kan aansteek.
Gesondheidswerkers in veral die openbare sektor het reeds voor die uitbreek van die pandemie onder baie moeilike omstandighede gewerk. Covid-19 het al daardie omstandighede vererger.
Kom ons staan net vir ’n oomblik stil in respek teenoor elke gesondheidswerker – van portier tot spesialis – wat toegewyd en vasberade sy of haar deel doen om ons deur hierdie krisis te dra.
Kom ons doen ons klein deel om te help. Dra ’n masker. Was jou hande. En as jy kan, bly by die huis.
– Beeld, 21 Julie

