Dit lyk of die sentiment dat die Reënboognasie eerder uitmekaar dryf as verenig, sterker geword het.
So sê adj. pres. Paul Mashatile op 4 Februarie tydens die bekendmaking van die jaarlikse Suid-Afrikaanse Sosiale Kohesie-indeks (Sacsi).
Hy sê hoewel die algehele sosiale kohesie-indeks van 51,7 indekspunte (uit 100) in 2023 na 53,3 in 2024 gestyg het, daar verskeie areas is wat groot kommer wek.
Die aanvaarding van diversiteit in die land het afgeneem tot 46,8; vertroue in instellings het tot 47,9 gedaal; persepsies van regverdigheid tot 42,4; en respek vir sosiale reëls tot 36,6.
Volgens die Sacsi-verslag het die meetlyn, vertroue in mense, tot 44 in die Noord-Kaap afgeneem. Met aanvaarding van diversiteit het die provinsie 43,6 behaal, met vertroue in instellings op 50,6. Vir respek vir sosiale reëls, hoewel in die tweede beste plek, het Noord-Kapenaars ’n skamele 43,3 gekry.
Hoë sosiale kohesie is belangrik omdat dit daarop dui dat mense ’n beter en meer bevredigende lewe het, en meer optimisties is oor die toekoms.
Op 6 Februarie het pres. Cyril Ramaphosa sy staatsrede gelewer.
In sy opiniestuk hieroor skryf Nco Dube op iol.co.za dat die staatsrede poog om ’n hoopvolle prentjie te skets, maar eerder die risiko loop om openbare vertroue verder af te takel.
Dube skryf hoewel die staatsrede sleuteluitdagings erken en ryke doelwitte uiteensit, is dit nie in voeling met die werklikheid en frustrasies wat deur gewone Suid-Afrikaners ervaar word nie.
Op 8 Februarie vaardig pres. Donald Trump van Amerika ’n uitvoerende bevel teen Suid-Afrika uit weens dié regering se “skadelike geskiedenis en toekomstige beleidsrigting”.
Ekonomiese implikasies van die bevel is “skrikwekkend”, sê die ekonoom, dr. Roelof Botha aan Netwerk24.
Intussen, elders in die wêreld, wys nog leiers en regerings vuis vir mekaar, en vrede is net ’n woord in die woordeboek. Selfs Elon Musk en Julius Malema spoel op sosiale media mond uit oor mekaar.
Elke Suid-Afrikaner word deur bogenoemde gebeure geraak, maar soos Botha gesê het: “Die lug gaan nie op ons kop val nie”.
Laat ons daarom kophou (soms bekhou), die hoop behou, en besig en uit die kwaad bly.




