Swerms heuningbye wat die afgelope weke in bome, tuine en selfs op voertuie opgemerk is, het Noord–Kapenaars aan die gons van ongemak oor dié besoekers met ’n angel.
Op sosialemediaplatforms is raad gevra oor hoe om van hulle ontslae te raak; of wie om te kontak om die swerm weg te neem.
Drie byekenners met wie NoordkaapBulletin gesels het, is dit eens: Dit is trekswerms wat dié tyd van die jaar normaal voorkom, en net in enkele gevalle sal so ’n swerm nie verder aanbeweeg nie.
Trekswerms is meer sigbaar ná ’n goeie reënseisoen soos verlede somer, en meestal is hulle as te ware op pad na beter “weivelde” ná hul verkenners uitgestuur is. Dit gebeur ook dat hulle deur byvoorbeeld ’n veldbrand of die spuit van gif op landerye verwilderd is.
Hulle kan ook trek omdat die nes wat hulle gehad het, te klein geword het. Die koninginby, wat tot 1 000 eiers per dag kan lê, weet dat die nes te klein geword het. Ná sy van ’n jong opvolger verseker is, verlaat die koninginby die nes saam met van die bye.
Die jong koningin en die res van die bye bly in die oorspronklike nes agter.
Die byekenners se raad stem ook ooreen: Los die bye in vrede. Die swerm behoort binne twee uur, soms binne twee dae, weg te wees.
“Die lenteblomme is besig om te verdwyn, en binne twee weke behoort trekswerms vir die seisoen verby te wees,” sê Theunis Engelbrecht, ’n byeboer van die Douglas-omgewing.
Danie Kershoff, ook van die omgewing, sê ’n groot persentasie van die bye was die afgelope tyd agter die blomme van die swarthaak aan.
Byeboere gaan ook binnekort begin om byekorwe na uielande te skuif om die bestuiwing te doen.
“As jy op ’n dag in ’n braairestaurant sit, en jy kry nie meer gebraaide uie op jou bord of op jou burger nie, moet jy weet dit is omdat daar nie bye was om die bestuiwing te doen nie,” sê hy.
Salmon Beukes van Upington vertel dat hy ’n bedrywige tyd gehad met byeswerms wat inwoners van dié dorp op hol gehad het.
Soos Engelbrecht vra hy ook: Moenie die bye met gif spuit nie; of probeer berook nie. Kry iemand wat iets van bye weet wat hulle byvoorbeeld in korwe vang.
Gif gaan na alle waarskynlikheid nie al die bye dood nie; en beroking deur ’n oningeligte gaan hulle nie verwilder nie.
Die prosesse kan die bye net aggressief maak, en wanneer ’n by ’n mens of ’n dier steek, gee dit ’n aroma af wat die ander lok. So gebeur dit dan dat ’n hele swerm ’n mens of dier toetakel. Selfs indien ’n mens nie vir bye allergies is nie, kan dit dodelik wees.
Bye is uiters noodsaaklik om die ekologiese balans en biodiversiteit in die natuur te handhaaf. Die voortbestaan van baie voedselbronne is van bye en ander bestuiwers afhanklik. Dit sluit groente, vrugte en neute in.
- Mense wat werklik probleme met swerms bye ondervind, kan vir Beukes by 082-435-5002 bel, wat vir hulle verdere raad kan gee, of met iemand van ’n spesifieke omgewing in kontak bring om die bye moontlik te verwyder.
Hoe gemaak as ’n swerm bye jou toetakel?
Bly kalm, maan prof. Hannelie Human, ’n entomoloog aan die Universiteit van Pretoria, in ’n artikel wat in Januarie 2021 in Huisgenoot verskyn het.
- Moenie woeste bewegings maak nie, en beweeg weg.
- Probeer jou mond en neus met kledingstuk bedek. Bye word deur koolstofdioksied gelok.
- Om in water te spring is nie noodwendig die beste nie. Bye sal bo die water bly en jou steek wanneer jy opkom. Skuil in ’n huis of digte plantegroei.
- Moenie angels uitpluk nie. Meer gif word so vrygestel. Skraap angels met ’n bankkaart of mes af.
- As jy slagoffers met ’n tuinslang spuit, word die bye se vlerke nat en kan hulle nie vlieg nie. So wen jy tyd vir die mens om te gaan skuil.
- Jy kan ook iemand met ’n kombers bedek om hulle teen steke te beskerm.
Slegs 3% ontwikkel ernstige allergiese reaksie
Jaarliks word daar slegs tien tot 20 gevalle van mense wat aan bysteke dood is, in Suid-Afrika aangemeld, hoewel die getal in werklikheid meer kan wees omdat dit nie altyd aangemeld word nie.
So ’n sterfte moet by die polisie aangemeld word omdat dit ’n onnatuurlike sterfte is.
Volgens die webwerf aspin-adventures.co.za, ontwikkel slegs 3% van mense wat deur ’n by of perdeby gesteek word, ernstige allergiese reaksie of sogenaamde anafilaktiese skok.
Hierdie simptome ontwikkel baie vinnig, is potensieel lewensgevaarlik en vereis dadelike en dringende mediese hulp.
Tekens van anafilaktiese skok sluit in:
- Die ontstaan van ’n veluitslag, areas wat erg juk of swelling op verskeie plekke op die liggaam anders as die steekplek. Dele van die vel lyk of dit bloos, of die vel word bleek.
- ’n Aanvanklike gevoel van benoudheid op die bors
- Asemhaling word al moeiliker
- Swelling van die keel en tong
- ’n Swak maar vinnige polsslag
- Naarheid, vomering en diarree
- Swelling om die oë mag ook voorkom
- Duiseligheid en floutes
- Verlies van bewussyn.
Volgens die inligting het 30% tot 60% van mense wat wel ’n ernstige reaksie op bysteek toon, ’n kans om ’n volgende keer wel anafilaktiese skok te ontwikkel.
Neem die nodige stappe om dit te voorkom nadat jy jou huisdokter of ’n spesialis geraadpleeg het.
Maak so ná ’n bysteek
- Verwyder onmiddellik die angel aangesien die spiere om die gifsakkie wat agtergebly het, onwillekeurig bly saamtrek om die res van die gif uit te spuit.
- Gebruik iets soos die rugkant van ’n mes of die rand van ’n bankkaart om die angel uit te haal met ‘n enkele vee-slag.
- Dit is baie belangrik om nié ’n klein tangetjie te gebruik om die angel te verwyder nie aangesien jy dan die res van die gif in die vel uitdruk.
- Moet nie die steekplek vryf nie, al brand dit en al voel dit jeukerig. Dit vererger die verspreiding van die gif.
- Verwyder enige juweliersware of iets wat styf pas voordat swelling begin intree.
- Was die area om die steekplek skoon met water en seep.
- Plaas ’n lap met koue water of ys daarin op die steekplek. Haal dit so elke tien minute vir ‘n paar minute af om skade aan die vel self te voorkom. Dit koue sal vir die pyn en swelsel help.
- Vir die jeuk kan anti-histamiene geneem word, of plaas ‘n mengsel van koeksoda en water op die steekplek.
– aspin-adventures.co.za





