Dieter Meyer

Dieter Meyer Saterdag (16/10) by die Kimberley parkrun te Rooifontein ná sy 452ste parkrun. Foto: Helena Barnard

Met die voltooiing van Dieter Meyer (73) se 452ste deelname aan ’n parkrun-geleentheid het hy Saterdag (16/10) by die Kimberley parkrun op Rooifontein nie eens nodig gehad om asem te skep voordat hy sy storie begin vertel nie.

Dit was die eerste keer sedert die inperking dat die Kimberley parkrun weer plaasgevind het, en Meyer het sy persoonlike beste (PB) tyd vir parkrun op Rooifontein opgestel toe hy die 5 km in die wildsplaas in 25:56 voltooi het.

Sy beste PB, van die 452 parkrun-geleenthede wat hy al aangepak het, is 22:59 in die Durban North Beach parkrun.

Die 2 260 km wat Meyer reeds in parkrun kafgedraf het, kom ’n lang pad: Op 12 November 2011 was hy een van die 26 atlete wat saam met die Comrades-legende Bruce Fordyce, uitvoerende hoof van parkrun Suid-Afrika, op die Delta Park-geleentheid in Gauteng vir die eerste parkrun in Suid-Afrika aangetree het. 

Tot op hede het Meyer al op 126 verskillende plekke aan parkrun deelgeneem – oral oor Suid-Afrika se nege provinsies heen en ook in Eswatini (Swaziland). Sy gunsteling, vanweë die natuurskoon én die uitdagende roete, is die 1 000 Hills parkrun in KwaZulu-Natal. Sy 450ste parkrun het hy in Jacobsdal voltooi. 

Meyer hou van enige sport, maar swem, fietsry en veldwedlope is sy passie. Hy het onder meer ’n blou nommer vir die Two Oceans-marathon en ’n groen nommer vir die Comrades-marathon; het reeds 27 keer die Harrismith-bergwedloop voltooi, 13 keer die Cape Town Cycle Tour (vroeër bekend as die Argus) en 17 keer die Midmar-myl (hy wil dit nog drie maal doen); hy het selfs Vrydag aan die Hollard Daredevil Run, waar mans in pers Speedos hardloop, deelgeneem. Dit is ’n wedloop ten bate van KANSA en bevorder bewusmaking van prostaatkanker. 

Sy plan was om verlede jaar die 500-kerf vir parkrun-deelname te bereik, maar die inperking weens die Covid-19-pandemie het hom gepootjie. Om daardie gesogte T-hemp met die 500 op die rug te verwerf, is egter steeds sy missie.  

Vir mense wat huiwerig is om te oefen, sê hy: “Kom uit die huis en begin sport doen.” Hy is oortuig dat deelname aan parkrun altyd ’n goeie begin is, en dat ouers hul kinders moet saamneem juis omdat dit vir die hele gesin geskik is.

Meyer, wat oorspronklik van Duitsland is en ’n groot gedeelte van sy lewe in die boubedryf in veral Gauteng gewerk het, het verlede jaar ná sy vrou se dood Kimberley toe verhuis om by sy seun te bly. Hy is ’n lid van die Kimberley Harriers en sien uit na die klub se 51ste Diamond-marathon, wat op 30 Oktober plaasvind. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article