Die Bingu- nasionale stadion in Lilongwe, Malawi.

TJ van der Walt (18), blitsatleet van Hopetown, het Saterdag (10/12) ’n goue medalje in die 400 m-nommer op die Afrika-unie-sportraad (AUSC) se Streek 5-jeugspele in Lilongwe, Malawi, verower.

Dié leerling aan die Hoërskool Hopetown, wat vanjaar in matriek was, was ook in die Suid-Afrikaanse 400 m-aflosspan wat Donderdag ’n silwermedalje op die byeenkoms verwerf het.

TJ het die 400 m in 47.28 voltooi, en hoewel dit nie sy persoonlike beste tyd is nie, word dit as “heel aanvaar­baar” beskou in die reën­toestande wat geheers het.

Sy naam pryk sedert vroeër vanjaar op die atletiekwêreldranglys ná sy deelname aan die o.20-wêreldkampioenskaps­byeenkoms in Colombia.

In Saterdag se 400 m-eindronde het TJ teen onder andere drie atlete van Botswana meegeding wat almal hoër as hy op dié ranglys is.

Meer as 3 000 atlete van tien lande in Suider-Afrika het aan die byeenkoms, van 2 tot 12 Desember, deelgeneem. Die Suid-Afrikaanse span van 209 atlete is as die algehele wenner aangewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article