In tyd van nood is sy ’n baken van hoop wat gewillig ondersteuning bied. Sy het ’n onblusbare passie vir haar werk en is heeltemal toegewyd.
Dié ingesteldheid van Tanya van der Walt, ’n maatskaplike werker in Kimberley, het haar op Internasionale Maatskaplikewerkdag ’n #Hoopdraer-eerbewys besorg.
Sy is een van nege maatskaplike werkers van oor die land heen wat onlangs dié eerbewys, die geesteskind van Solidariteit Helpende Hand en Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde, ontvang het.
Van der Walt werk by Charné Bennett Social Work Services, ’n private praktyk wat ’n reeks holistiese dienste in terme van geestesgesondheid lewer. Sy help mense wat onder meer met depressie, selfdoodneigings en middelafhanklikheid sukkel.
Sy is ook sedert 2020 ’n vrywilliger by Solidariteit Helpende Hand.
“Ek sluit kontrakte met ondernemings en organisasies om ’n maatskaplike diens te lewer,” sê sy.
“Mense buite Kimberley kan ook by my ’n afspraak maak, waarna ek hulle na makliker bereikbare hulpbronne sal verwys.”
“Konsultasies en terapie in die private sektor is duur. Uit ’n maatskaplike oogpunt moet ons meer met die kliënt se gesin werk om ’n holistiese ontwikkelingsplan op te stel en doelgerig te werk,” sê sy.
“Teen die tyd dat hulle met my konsulteer, is meeste gesinslede van iemand met ’n geestesversteuring so uitgebrand dat hulle nie krag of geld het om terapie te ontvang nie.”
Van der Walt het in 2014 haar graad in maatskaplike werk aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein verwerf.
In 2015 het sy by ’n kinderhuis begin werk, waar sy met kinderbeskerming en statutêre werk gemoeid was.
Ná die geboorte van haar eerste kind het sy dit egter moeilik gevind om met sake van kinderbeskerming te werk.
Sy het haar toe by die Noord-Kaapse vereniging vir Alzheimer se siekte aangesluit, waar haar liefde vir terapie en opleiding ontstaan het.
In 2021 was sy ’n fasiliteerder en assessor vir maatskaplikehulpwerkerstudente by die Hugenote Kollege in Kimberley. Later is die kampus egter gesluit, en moes sy die groot stap neem om kliënte onafhanklik te begin werf.
Ondanks haar vol werkskedule en die grootmaak van twee jong seuntjies, is dit vir Van der Walt belangrik om steeds liefdadigheidswerk te doen omdat dit aan haar “ ’n gehaltelewe” verskaf.
“Pleks daarvan om tyd te maak vir die dinge wat geld nie kan koop nie. Maak tyd vir jou gesin, bestee meer tyd in jou gemeente en maak tyd vir jouself. Vriendelikheid en goeie dade is aansteeklik.”
Maatskaplike werkers se beroep behels om orde uit chaos te probeer skep. Die uitdagings was opnuut in die kollig tydens ’n gemeenskapsanalise wat deur Solidariteit Helpende Hand gedoen is en in Maart bekend gestel is.
Volgens Christia Potgieter, die organisasie se hoof van maatskaplikewerkdienste, word daar meer as ooit tevore druk op individue, gesinne en gemeenskappe se emosionele, geldelike en fisieke welstand geplaas. Maatskaplike werkers speel ’n integrale rol om hoop uit wanhoop te skep.
Uit die analise, waaraan meer as 15 000 respondente in Afrikaanse gemeenskappe deelgeneem het, het die volgende uitgestaan:
- ongeveer sewe uit tien mense het ’n behoefte aan finansiële leiding;
- ses uit tien het ’n behoefte om uit skuld te kom;
- een uit twee beleef depressie, angs en eensaamheid;
- een uit twee ervaar huwelikskonflik;
- een uit vier beleef drankmisbruik;
- een uit vier beleef onbeplande swangerskap en egskeiding;
- een uit vier beleef geweldsmisdaad en boeliegedrag; en
- een uit vyf kan met tye nie medisyne bekostig nie.





