Die stemme in die pas afgelope algemene verkiesing – wat een maal elke vyf jaar in Suid-Afrika plaasvind – is oor die naweek klaar getel en bevestig.
Volgens die Verkiesingskommissie (OVK) se webwerf het 58,63% van geregistreerde kiesers aan die verkiesing deelgeneem.
Dit is agt persentasiepunte minder as die 66%-kiesersopkoms in die vorige algemene verkiesing in 2019.
Meer as 40% van geregistreerde kiesers het nie verlede week gestem nie, ongeag ruim geleentheid om so te doen.
Benewens verkiesingsgeleenthede vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon, kon ’n kieser vir ’n spesiale stem aansoek doen om voor die amptelike verkiesingsdag te stem.
Volgens die OVK was 27 782 081 van die nagenoeg 60 miljoen Suid-Afrikaners vir die verkiesing geregistreer, waarvan 16 284 783 gestem het, met boonop 213 437 bedorwe stembriewe wat ingedien is.
Met die nagenoeg 20 miljoen kinders en jeugdiges onder die stemgeregtige ouderdom van 18 jaar, is ongeveer 12 miljoen Suid-Afrikaners nie geregistreer om te stem nie.
Tot in verlede week, tydens die verkiesing, is verskeie “hulproepe” op onder meer Facebook-groepe raakgelees, met die strekking: “Ek wil nou gaan stem, maar het nie geregistreer nie. Is dit nou te laat?”
Politiek is nie elkeen se belangstelling nie; net soos rekeningkunde byvoorbeeld – maar jy is immers steeds vir jou eie begroting verantwoordelik.
Met ’n verkiesing wat landsake bepaal, word dit ten sterkste aanbeveel om te registreer en te stem. Die meeste mense is heel vlytig op die internet; besoek daarom die OVK se webwerf waar jy jou aanlyn vir ’n verkiesing kan registreer, of kan kyk waar jy geregistreer is.
In die vyf jaar voor die volgende algemene verkiesing sal tussen- en munisipale verkiesings plaasvind. Berei jouself voor om te gaan stem.
Anders gaan iemand anders se stem namens jou besluit.


