Om die waarheid te ontbloot, landsburgers in te lig en magsmisbruik in ’n regeringsbestel sigbaar te maak is van die hoofredes waarom vryheid in die perswese nagestreef word.
’n Kaart waarop die persvryheidsindeks van bykans alle lande ter wêreld aangebring is, dui aan dat ’n “bevredigende situasie” betreffende persvryheid in Suid-Afrika en Namibië bestaan. Dieselfde geld onder meer vir Argentinië, Amerika, Kanada, die meeste Wes-Europese lande, Australië, Nieu-Seeland, Suid-Korea en Taiwan.
Slegs enkele lande, wat Groenland, Noorweë, Swede, Finland, Ierland en Portugal insluit, beoefen persvryheid wat as “goed” beskou word.
“Opmerklike probleme” betreffende persvryheid word in lande soos Botswana, Angola, Oos-Europese state en die grootste deel van Suid-Amerika aangedui. Dit kom nie as ’n verrassing dat “baie ernstige persvryheidsprobleme” vir onder meer China, Rusland, Kuba, Venezuela, Egipte en die Midde-Oosterse lande aangedui word.
Vanjaar, ter bewusmaking van Wêreldpersvryheidsdag wat Woensdag (03/05) plaasgevind het, was die Verenigde Nasies (VN) se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) se werkstitel vir die dag: “Freedom of expression as a driver for all other human rights”.
Hoewel die pers waarheid moet ontbloot, burgers ingelig moet hou en magsmisbruik moet uitwys, geld media-etiek steeds, selfs in lande waar persvryheid as “goed” of “bevredigend” beskou word.
Met die massagebruik van sosialemediaplatforms het elkeen wat ’n boodskap of foto die digitale ruimte instuur, deel van die mediamag geword.
Ondeurdagte woorde en skokkende foto’s laat ’n mens egter spyt voel dat dié soort “mediavryheid” nie strenger ingehok word nie.
Wanneer die spreekwoordelike wag voor jou mond jou tikkende vingers nie in toom hou nie, tas jy juis ander se menseregte aan.


