Liefde en soeke na wysheid en kennis. Ondersoek na die aard en wese van dinge. Wetenskap wat hom besig hou met die beginsels van kennis. Wysgerigheid. Denkrigting.

Dít kortliks oor filosofie, aldus Pharos Woordeboeke, so op Wêreld Filosofiedag wat vandag op die internasionale kalender sy beurt kry.

Het ’n mens te doen met die monitering van sosialemedia­platforms vir ’n publikasie, is dit duidelik uit kommentare dat filosofie nie werklik deur Jan Rap en sy maat, Jan Publiek, aangehang word nie.

Soos wat kitskos en allerlei sogenaamde tydbesparende produkte hoogmode is, so is kitswoorde en kitsgedagtes aan die orde van die dag.

Telkens op ’n platform soos Facebook lewer mense heftig kommentaar oor ’n spesifieke berig. Uit dié kommentaar is dit duidelik dat die skrywer(s) van die kommentaar nie die berig gelees het nie, en ’n mening uit die ongeveer twee inleidende sinne gemaak het.

Volgens die Universiteit van Oxford kan fokus op die filosofiese sy van die lewe van veel waarde vir enigeen se bestaan en toekomspaadjie wees.

Filosofie leer ’n mens om te leer. Dit help jou om ander se perspektief in te sien.

Kritiese denke word ontwikkel, en ook leierskapsvaardighede.

’n Mens hoef nie ’n akademikus te wees om filosofie te beoefen of bogenoemde vaardighede te gebruik nie.

’n Leerling, ’n ouer, die een wat ’n huishouding aan die gang moet hou, ’n kantoor moet behartig, of bloot sy lewe meer sinvol wil inrig, kan die kernbeginsels van filosofie daagliks gebruik.

Sokrates (470-399 v.C.), die vader van Westerse filosofie, het gesê: “There is only one good, knowledge; and one evil, ignorance.”

Wanneer ’n mens jouself so (oningelig) slim wil hou, probeer die saak van meer as een kant bedink; win selfs nog inligting in.

Sokrates het immers ook gesê: “The only true wisdom is in knowing you know nothing.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article