Cholera, ’n uiters ernstige bakteriële infeksie, kan voorkom word deur goeie higiëniese norme met die hantering van riool te handhaaf. 

Dit volgens die Wêreld­gesondheids­organisasie (WGO), wat sê dat cholera in sommige gevalle binne ure ’n kind en selfs ’n volwassene se dood kan veroorsaak indien behandeling vir dié akute waterige diarree gepaardgaande met erge dehidra­sie nie gou genoeg plaasvind nie.

Cholera versprei wanneer mense water drink of kos eet wat met die cholera-bakterie besmet is. Die bron van die besmetting is gewoonlik die ontlasting van iemand wat dié infeksie het.  

Hoewel baie met dié infeksie nie simptome ontwikkel nie, bly die bakterieë tot tien dae in hul ontlasting. Dit word terug na die omgewing en waterbronne gevoer, met die risiko om meer mense te besmet. 

Onlangs is bevestig dat cholera in die Vaalrivier gevind is. Weens die samevloeiing van dié rivier met die Oranjerivier is dit seker ’n kwessie van tyd voordat dit in dié waterbron vir gemeenskappe en voedselprodusente gevind word. 

Die adjunkminister van water en sanitasie het vroeg in Oktober  met die bekendstelling van die Teenbesoedelingsforum gesê dat 90% van besoedeling in die Vaalrivier munisipaliteite se toedoen is. 

Die WGO sê dat die uitbreek van cholera voorspel kan word op plekke waar die verwerking en verwydering van riool nie na wense is nie. 

Dien dit as voorspelling dat daar kommer is oor die riool­besoedeling van waterbronne deur die Emthanjeni-, Renosterberg-, Thembelihle-, Dawid Kruiper-, !Kai Garib-, Dikgatlong-, Gamagara-, Kgatelopele-, Magareng-, Phokwane-, Siyancuma-, Joe Morolong-munisipaliteit en nog meer Noord-Kaapse munisipaliteite? 

Onmiddellike optrede – in die aard van Superman of die Powerpuff Girls – is nodig.

Want die tydsamige hou van vergaderings en die stigting van forums en komitees het te min woema.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article