Die waterkrisis in Suid-Afrika is ’n wegholtrein wat die kragkrisis soos kinderspeletjies kan laat lyk.

Boonop vrees kenners dat die waterkrisis gaan vererger. Só skryf Antoinette Slabbert en Magdel Louw in ’n indiepte-artikel in Sondag 17 Maart se Rapport.

Kimberley, Warrenton, De Aar, Olifantshoek, Kakamas, Keimoes, Boshof . . . en die lys gaan aan van Noord-Kaapse dorpe en omstreke waarvan die inwoners weet wat dit is om dae, weke en maande lank met droë krane te sit.

Soos al hoe meer inwoners oor die land heen weet hulle hoe dit is om emmer vir emmer water te moet aandra; of om jou watertenk se vlak met valkoë dop te hou; en om jou hele dagskedule op sy kop te dop omdat jy in ’n water­aandraer en waterversamelaar ontaard het.

Om watertenks – of nog watertenks – op te rig is nie ’n langtermynoplossing nie. As dit nie reën nie of as daar selde watertoevoer is, gaan die tenks nie gevul word nie.

Om ’n boorgat in jou erf te laat boor is ook nie ’n oplossing nie. Dit kom daarop neer dat elkeen in jou gebied wat dit doen, waar­skynlik dieselfde wateraar gebruik. Weereens, as dit nie reën nie en grondwater nie aangevul word nie, kan ’n wateraar net so lank hou.

Die enigste plan vir betroubare watertoevoer in die sogenaamde moderne samelewing waarin ons is, is om die hedendaagse stelsels wat reeds in plek is – wat jare gelede deur slim mense ontwerp is – in stand te hou, te verbeter of te vergroot, soos nodig.

So vroeg soos 4 000 v.C. het die antieke beskawings van onder meer Egipte stelsels ontwerp om water na landerye en huis­houdings te lei soos nodig.

Tóé reeds het hulle die onnodigheid en onproduktiwiteit daarvan ingesien om water emmer vir emmer aan te dra.

Dit is betreurenswaardig dat regering op soveel vlakke, muni­sipaal, provinsiaal en nasionaal, nie die absolute noodsaaklikheid van reeds ontwerpte waterstelsels insien (of verstaan) nie, en so ligtelik daarmee omgaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article