Met die eerste oogopslag was niks met dié toneeltjie verkeerd nie: Die kleuter op die ma se skoot in die geselskap van ander volwassenes. Die kind was “stroopsoet” en die ma kon onverstoord gesels.
Met die besef oor waarom die kind so “soet” is, het ’n ongemak gekom: Met ogies skeelgetrek van intense konsentrasie, was die kind besig op die ma se selfoon.
’n Mens wou toe dadelik vir die ma vertel van die onlangse navorsing waarin bevind is dat kinders al hoe slegter sien, met een uit drie wat bysiende is of nie voorwerpe op ’n afstand duidelik kan sien nie.
Dit is weens bysiendheid, sê navorsers nadat internasionale data ontleed is. Dié bysiendheid het ’n skerp toename tydens die Covid-19-inperking getoon toe kinders nog meer skermtyd as voorheen toegelaat is, en nog minder tyd as voorheen buite gespeel het, aldus die British Journal of Ophthalmology.
Om ’n ou Covid-spreekwoord aan te haal: “Abnormaal het nou normaal geword,” en meer skermtyd is nou die norm.
Teen die huidige groei sal meer as die helfte van tieners en meer as ’n kwart van jonger kinders teen 2050 bysiende wees.
Volgens die verslag word bysiendheid by kinders nou as ’n oogsiekte beskou; met ’n groter risiko dat nog oogverwante komplikasies later sal ontwikkel.
Oogkundiges beveel aan dat kinders meer buite speel. Natuurlike lig, oefening daaraan verbonde om buite te speel, en om op voorwerpe verder weg te fokus, verminder kanse op bysiendheid.
Prof. Renata Schoeman, ’n psigiater met ’n belangstelling in kognisie en aandaggebrekhiperaktiwiteitsindroom (AGHS), sê skermtyd kan ’n snellerreaksie ontlok: Hoe meer jy “scroll”, hoe meer wil jy “scroll”; hoe meer sukkel jy om te konsentreer en hoe meer sukkel jy met dryfkrag om iets anders te doen.
Skermtyd kan vir uitgeputte of besige ouers na ’n oplossing lyk om kinders “soet” te hou, maar op die duur kan dit soos ’n bitter pil wees om te sluk.



