Die eerste Kersversierings pryk reeds in winkels, en 2025 se dagboeke en kalenders is opgestapel op winkelrakke.

Kersfees, wat as ’n tyd van liefde, gee en ontvang beskryf word, is nog net ongeveer ses weke die toekoms in.

Dalk is dit met dié gees in gedagte dat verskeie dae in die volgende week of wat oor die wêreld heen herdenk word waarin goedheid, en sekerlik hoop, verkondig word.

Op Woensdag 13 November is Wêreldwelwillendheidsdag herdenk. Dié dag het ten doel om mense aan te moedig om daagliks welwillendheid te beoefen; om empaties te wees, ander te (probeer) verstaan en samewerking te beklemtoon om ’n beter omgee-wêreld te skep.

Dit sluit in om iemand te help, iets te skenk, positiwiteit te bevorder, ’n vrywilliger by ’n organisasie te wees, en om jou kinders te leer om goed te wees en goed te doen.

Wêreldbruikbaarheidsdag word al die afgelope 20 jaar op 14 November herdenk. Dié dag het ten doel om dienste en produkte wat geskep is, makliker toeganklik vir almal te maak, én eenvoudiger om te gebruik. Die fokus is veral op tegnologie, “want tegnologie moet mense nie dom laat voel nie”, aldus worldusabilityday.org. Die boodskap van dié dag is ook: “Ons hoef nie dienste en produkte te aanvaar wat nie goed werk nie.”

Net voordat ’n mens tongklikkend wil vra watter dienste en produkte dít insluit (want hier kan die beskuldigende vinger maklik gewys word) sien jy die Internasionale Dag van Verdraagsaamheid raak waarvoor 16 November uitgeboek is. Volgens die Verenigde Nasies (VN) is mense van nature verskillend, en slegs verdraagsaamheid kan na harmonie lei.

Vir week 46 van vanjaar kan al hierdie waardes help om ’n mens teen die laaste spreekwoordelike bult van die jaar uit te kry.

Maar soos alle dinge wat hoop gee (wat ons daagliks benodig), behoort ’n mens dié waardes elke dag, van week een tot week 52, uit te leef.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article