Sy sê: “Oe! Ek is mal oor lees! Ek lees alles waarop ek my hande kan lê. Ek is selfs op daardie WhatsApp-groepies waar ons die boeke en tydskrifte deel.”
Sy sê dit sonder blik of bloos. Sy lyk ingenome, so onskuldig. Of is dit eerder totaal oningelig – ongeag daarvan dat lees ’n mens se wêreld en kennis verbreed?
“Truth to Power, die boek waarin André de Ruyter van die smullende piranhas by Eskom vertel, was nog skaars op die rak of nog ’n soort piranha slaan daarop toe. Boekdiewe is nou voluit in die visier,” skryf Erika de Beer, joernalis by Netwerk24.
“Hulle sal nie ’n koek uit ’n tuisnywerheid steel nie, maar op WhatsApp- en Telegram-groepe met honderde tot duisende lede deel Afrikaanse mense onwettig elektroniese weergawes van boeke met mekaar.”
Hierdie diefstal voel vir die deler (so goed soos die steler) dalk nie so verkeerd nie omdat die produk wat gesteel word, nie sigbaar “weggedra” word nie.
So ’n elektroniese publikasie word gesteel en gedeel (iewers along the line het iemand dit gekoop, of ken iemand ’n kubermisdadiger wat weet hoe om publikasies agter betaalmure gratis af te laai) sonder skaamte.
Dit is so goed jy stap in ’n slaghuis in en vat jou pond vleis. Hoekom moet jy betaal: Iewers voor jou het iemand mos vir ’n pond vleis betaal. Of jy stop langs die grensheining en laai vir jou ’n skaap op. Hoekom betaal? Iewers along the line het iemand mos al hierdie skaapboer vir ’n skaap betaal?
Of ’n boek, tydskrif en koerant in e-publikasie-formaat is of nie, dit het die skeppers daarvan dieselfde tyd, moeite en gereeld verdriet besorg om die produk aanmekaar te sit. Dit was boonop allermins kosteloos.
NoordkaapBulletin is ’n gratis publikasie, maar sy betaalsusterskoerante en -tydskrifte op Netwerk24 loop deur onder dié piranhas. Hulle huiwer nie om vir ’n tydskrif op ’n winkelrak te betaal nie, maar sodra dit op die skerm te lees is, lyk dit of deel en steel ál meer die norm is.



