Min ander maande in die jaar dra waarskynlik soveel “verantwoordelikheid” soos September.

Die blokke van dié maand op die kalender is bykans elkeen met aantekeninge oor ’n bewusmakingsdag gevul; sommige dae dra swaar aan tot vier bewusmakingsveldtogte.

Die veldtogte se kernpunt wissel van erfenis en toerisme tot hartgesondheid, kinderkanker, doofheid, liefdadigheid, geletterdheid, selfdood, fetale alkoholsindroom, Alzheimer se siekte, renosters, die omgewing, lente, hondsdolheid en voedselvermorsing.

Van verantwoordelikheid en voedsel gepraat: Navorsing het bevind dat vroue slimmer as mans koop.

Volgens die data deur Libstar is vroue ware snuffelhonde as dit by winskopies kom en weet hulle hoe om waarde vir hul geld te kry. Vroue let meer na spesiale aanbiedinge op as mans en is in die meeste gevalle die primêre koper in die huisgesin, berig Arisa Schamrel oor die navorsing.

Tot 60% van vroue let na winskope op, terwyl slegs 48% van mans daarna kyk.

Op die onderwerp van inkopies het ’n onlangse nasionale opname van Adspace24 aangedui dat 68% van mense na spesiale aanbiedinge en promosies in hul plaaslike koerant soek.

Die afdeling waarin lesers die meeste belangstel, is voedsel en ander kruideniersware, met persoonlike sorg, doen-dit-self-produkte, asook selfone en voertuie, die hoogste op hul belangstellingslys.

Die opname het weereens bewys dat plaaslike koerante steeds ’n baie doeltreffende advertensiemedium is, afgesien van digitale platforms.

So dra elkeen sy pakkie verantwoordelikheid; of jy ’n aktivis vir jou erfenis is, ’n ontdekker van ’n kuur vir ’n lewensbedreigende siekte, die lid van jou gesin wat die huishouding se wiele moet laat rol, of iemand wat ander wil inlig, opvoed of vermaak (wat terloops die drie beginsels van die media is).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article