“Be so busy loving your life and your aspirations that you have no time for hate, regret or fear.”
Hierdie aanhaling van die selfhelpskrywer Karen Salmansohn sou ’n mens graag as riglyn vir die nuwe jaar wou gebruik.
Maar met die oortik van die sekondewyser vanaf 2022 na 2023 het nie veel – behalwe die datum – verander nie. Die nuwe jaar het ingetree soos wat die ou jaar uitgetree het – met dieselfde onheilswolke én wolke met goue randjies wat bo die mensdom se koppe blom.
Tog, skryf dr. Ashaq Hussain in die e-publikasie Rising Kashmir, skep elke nuwe jaar hoop en nuwe emosies in die hart van elke mens. In die algemeen glo mense dat die komende jaar beter as die vorige een sal wees.
Omdat hulle op daardie tydstip optimisties voel, word Nuwejaarsvoornemens gemaak met vasberadenheid om dit jaaruit deur te voer, skryf Hussain, wat ook van mening is dat die verloop van tyd die grootste werklikheid van die wêreld is. Elke oomblik wat verby is, is verby. Dit kan nooit weer herhaal word nie.
Saam met hierdie besef is daar die globale uitdagings wat elk van die agt biljoen inwoners op die aardbol in ’n mindere of meerdere mate raak.
Volgens forbes.com is van die grootste uitdagings wat ondernemings in 2023 in ’n snelveranderde wêreld in die oë moet kyk, onder meer inflasie, die breek in sekuriteit van voorsieningskettings en die agterstand wat weens Covid-19 opgedoen is; versnelde digitale transformasie; data- en toestelsekuriteit met kuberaanvalle en sy trawante wat al hoe meer voorkom; en verhoogde verwagtinge van kliënte – mense soek onvergeetlike ervaringe, ook wanneer hulle aankope doen.
Besef vanjaar die vlietendheid van tyd. Hoop sonder skroom. Droom groot en daag jouself uit.
Doen dan ten goede, én jou bes. So maak jy ’n grootse bydrae om 2023 ’n onvergeetlike ervaring te maak.



