’n Mens wil jou nek nie te ver oor dié saak uitsteek nie, al vind Wêreldkameelperddag op Vrydag 21 Junie plaas.

Op dié dag, terloops, word die dier met die langste nek se bestaan gevier, wat saamval met die jaarlikse winteromkeerpunt in die Suidelike Halfrond, wat die langste nag is – of dag en someromkeerpunt vir inwoners in die Noordelike Halfrond.

Die Giraffe Conservation Foundation reken daar is net ongeveer 117 000 langnekke oor. Kameelperde in die algemeen is nie ’n bedreigde spesie nie, maar sekere subspesies is bedreig.

Die term “bedreig” lei na die eintlike saak ter bespreking: Die “bedreigde” status van die gedrukte media.

Verlede week het Ishmet Davidson, uitvoerende hoof van Media24 – waarvan hierdie publikasie deel is – gesê die medialandskap verander al hoe meer na digitaal, wat hersiening van bedrywighede om in die langtermyn volhoubaar te wees, noodsaak.

Dit volg op beweringe dat die gedrukte weergawe van vier van Media24 se “groot” koerante gestaak gaan word.

Davidson beklemtoon dat geen finale besluit nog oor die toekoms van dié koerante geneem is nie, met verskeie opsies wat oorweeg word.

Oor die wêreld heen is dit nou die neiging om nuus eerder digitaal as in gedrukte vorm te versprei, ook vanweë die hoë druk- en verspreidingskoste.

Menings en omstandighede verskil, tog dui die aantal navrae oor “ou koerante” daarop dat ’n leemte op meer as een terrein sal ontstaan met die wegkwyn van gedrukte koerante.

Behalwe dat ’n koerant as ’n welkome nuusbron kan saamry na ’n afgeleë gebied waar die digitale ruimte nie oorheers nie (en ná die suflees daarvan nuttig vir zoldraai is), is dit veelsydig: om ruite te was; vir voëlhokke; vir die skoonmaak van braairoosters; om hondjies met “huissindelikheid” te help . . .

Maar totdat die feite op die tafel is, laat ons eerder gedagtes oor hierdie “bedreigde spesie” nekomdraai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article