Die nimmereindigende eetlus van die trogvreters – soos wat gemeenskapsleier Tumelo Mosikare in die voorbladberig beskryf – is genoeg om enigeen se bloeddruk op te jaag.

Lees daarmee saam dit wat die voormalige hoof van Eskom, André de Ruyter, oor die kragvoorsieningsmaatskappy skryf – dat dit die grootste misdaadnetwerk in die land is en dat die maatskappy verrot en reddeloos is – en jou bloeddruklesing stoot nog hoër.

Terwyl jy ’n hoofpyn voel klop, lees jy oor die hoof van die Suid-Afrikaanse Leër se besoek aan Rusland; oor bewerings dat Suid-Afrika in Desember wapens en ammunisie aan Rusland verskaf het. (’n Oomblik lank wil-wil die hoofpyn wyk toe jy EFF-leier Julius Malema se opmerking lees dat die land nie die vermoë het om wapens aan Rusland te gee nie, tensy dit “knopkieries en spiese en al daardie soorte dinge is”.)

Jy lees oor die regering se ingewikkelde raskwota wat uitgewerk is in verhouding met die demografie van die ekonomies aktiewe bevolking in elke provinsie. Dit is deel van die nuwe voorgestelde Wysigingswet op Gelyke Indiensneming.

Beswaarmakers hierteen sê dit impliseer dat maatskappye in sekere dele van die land verbied sal word om selfs ’n enkele bruin of Indiërwerknemer in ’n sekere pos aan te stel.

By hierdie berig het jy ophou lees, en terwyl jy met ’n nat lappie op die voorkop lê, onthou jy die nuus dat Woensdag (17/05) Wêreld-hoëbloeddrukdag is. Hierdie mediese toestand is die hoofoorsaak van hartaanvalle, hartsiektes en beroerte.

Allerlei raad word gegee om dit teë te werk of te beheer: kweek gesonde eetgewoontes, beperk die gebruik van versadigde vette en suikers, gebruik minder sout, drink minder alkohol, oefen meer, handhaaf ’n gesonde gewig, en hou op rook.

Dan ook: Kry gesonde maniere om stres te hanteer . . . dalk iets soos die beoefening van volstruispolitiek?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article