Boslelies, van die eerste tuinplante wat lente in veral milddadige oranje verwelkom, se trompetvormige blomme is besig om grond toe te daal.

Binnekort sal die amarillisse, wat reeds knoppe uitstoot, hul prag tentoonstel. Rose is lustig aan die blom, so ook magrietjies in allerlei kleure en variasies. Bye zoem tussen die laventelblomme.

Soggens lank voor sonop laat hoor die rooioog-tiptol van hom; onder meer sy deuntjie wat soos “Wake up, Gregory” klink.

Noudat die koue gewyk het, gehoorsaam ’n mens die rooioog-tiptol, en is wakkerword en opstaan veel makliker.

Die varsheid van vroeë oggende, die malsheid wat die natuur aan sintuie bied, en ’n dralende skemer ná ’n lang dag is genoeg om ’n mens begeesterd te laat voel.

Maar, asof die mensdom nie reeds uit genoeg TV-kykende sofapokkels bestaan nie, het min of meer elkeen ’n stryd met ’n selfoon-, tablet- of rekenaarskerm wat aandag en energie eis.

Kenners waarsku nou oor die “tweetoestel-verskynsel”, aldus Maretha Botes in ’n berig in Rapport: Terwyl jy TV kyk, rol jy op jou selfoonskerm van die een Instagram- of TikTok-inskrywing na ’n volgende. Selfs kinders besig met huiswerk het ’n selfoon langs hulle wat elke paar minute aandag kry.

Janine Roos van die Geestesgesondheid-inligting­sentrum van die Universiteit Stellenbosch (US), sê die verskynsel veroorsaak oorlading wat tot kognitiewe moegheid lei, en hoe meer jy “scroll”, hoe meer wil jy “scroll” – wat ’n verslawing is – en hoe meer sukkel jy om te konsentreer, en impulse en emosies te beheer.

Marlena Kruger, stigter van MindUnique Education, sê die beginsel van “mindfulness” is hier deurslaggewend: “Moenie tyd vermors met onbenullige, tydrowende en waardelose skermaktiwiteite nie. Wees krities wanneer jy tyd voor die skerms deurbring,” sê sy.

Op dié noot dan: “Wake up”, “stop and smell the roses”, en beleef die sonlig op jou vel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article