Die onlangse Oos-Kaapse jagtog van die president van die Verenigde Arabiese Emirate en sy koninklike geselskap is een van daardie gebeure wat ’n mens stom laat, want gemengde gedagtes hieroor laat ’n mens se tong knoop.
Jy voel sprakeloos oor dié sjeik se Suid-Afrikaanse wildsplaas van 30 000 ha wat hy vir R320 miljoen gekoop het; die miljoene wat hy geskenk het om ’n lughawe op te knap om sy vliegtuie daar te laat land; die jagkamp van nog meer miljoene wat opgerig is; die vyfton-vraghouer met wapens en ammunisie vir sy polisielede en soldate; die meer as 50 jaggewere met ’n gemiddelde prys van R40 000 elk wat gekoop is; en die vliegtuig vol Russiese en Asiatiese geselskapsvroue wat ingevlieg is.
Omdat dit tog raakpunte het met wat in geskiedenisboeke as “the greatest hunt in history” beskryf is, voel ’n mens opnuut stom oor ’n jagtog in 1860 by Bainsvlei buite Bloemfontein – ter viering van die besoek van die 16-jarige prins Albert, tweede seun van koningin Victoria.
Hiertydens is meer as 10 000 stuks wild geskiet “for the amusement of his royal prince”.
Steeds stom skakel ’n mens die radio aan om van gedagterigting te verander. Jou stomheid verdwyn terstond met die onwillekeurige uiting van ’n knoop oor nog ’n poging van ’n Suid-Afrikaanse sanger wat ’n “lelike resitasie sleg opsê”.
Die afdraai van die radioknop dwing dié een darem tot stilte, en jy wens dat meer sangers ’n juffrou soos mevrou Schutte in hul skoolloopbaan gehad het.
Terwyl haar knoetsige vingers “Stille Nag, Heilige Nag” op die klavierklawers uitgeslaan het, moes voornemende koorlede een vir een op die verhoog aantree en die eerste versie hiervan hardop en alleen sing. Sy het gereeld, sonder skroom, oor haar brilletjie geloer en gesê: “Uit. Jy is nie in die koor nie.”
Vele hedendaagse sangers sou nie in mevrou Schutte se koor gewees het nie.
Die mens se doen en late – ’n nimmereindigende bron om enigeen stom te laat . . .



