Meer as 50 lande, waarin die helfte van die aarde se bevolking woon, gaan in 2024 verkiesing hou.

Dit sluit Suid-Afrika in, waar kiesers 30 jaar ná die eerste demokratiese verkiesing in die land weer ’n geleentheid by die stembus kry.

Ander lande waar ’n nasionale verkiesing sal plaasvind, is onder meer: Amerika, Rusland, Brittanje, Duitsland, Australië, Taiwan, Indië, Iran, Suid-Korea, El Salvador en Kanada. Suid-Afrika se buurlande – Botswana, Namibië en Mosambiek – gaan ook stembus toe.

Die uitslae van dié verkiesings hou groot gevolge in vir menseregte, ekonomieë, internasionale betrekkinge en die vooruitsig op vrede in ’n wisselvallige wêreld, aldus ’n berig op Netwerk24. Veral omdat dit die wêreldmoondhede insluit.

Die magdom verkiesings oor die wêreld heen kan daarom in ’n mindere of meerdere mate ’n invloed op jou lewe hê – iets waaroor jy nie veel beheer sal kan hê nie.

Nader aan eie huis en haard het jy meer beheer, en ’n stem; hier kan jy help bepaal hoe die toekoms in hierdie land lyk.

Gaan trek jou kruisie op ’n stembrief. Sê nee vir rommel in jou buurt; tree daadwerklik op. Sê nee vir misdaad; swak dienslewering; mishandeling en verkeerddoen waarvan jy bewus is. Indien jy nie kans sien om direk betrokke te raak nie, ondersteun ten minste organisasies en instellings wat hulle daarvoor beywer.

Nuwejaarsvoornemens is algemeen met die aanvang van ’n nuwe jaar, wanneer ’n mens gewoonlik moed en nuwe ywer het.

Om fiksheid te verbeter, en ook om gewig te verloor, gesonder te wees, ’n beter vlak van geestesgesondheid te handhaaf, en om beter beheer oor geldsake te hê, is volgens ’n meningspeiling van Forbes Health die mees algemene nuwejaarvoornemens vir 2024.

Laat ons dit nou doen; nou betrokke raak. Geeneen van ons weet wat die toekoms inhou nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article