Die onwaarhede wat ons daagliks verkondig of aanhoor, is soms subtiel, soms blatant.

Dit kan uit onkunde, traak-my-nie-agtigheid, of opsetlike misleiding spruit.

Onlangse bemarkings­materiaal oor die Noord-Kaap en Kimberley verkondig dat Kamfersdam die grootste versameling van groot- en kleinflaminke in Afrika het. Om dié feit, wat in die verre verlede korrek was, te staaf, word (verouderde) foto’s van dié massa pienk flaminke gebruik.

Wat ’n teleurstelling moet dit nie vir besoekers op soek na dié skouspelagtige pienk massa voëls wees nie wanneer hulle slegs ’n uiters onwelriekende watermassa met hetsy dooie voëls of verdagte drywende voorwerpe teëkom?

Kamfersdam is lank reeds nie meer ’n voëlparadys nie, dit weet ons tog: Dit is ’n rioolparadys.

Ook, foto’s van museums en parke vir bemarkingsmateriaal is meestal in die gloriedae geneem, maar word steeds gebruik. Dit terwyl die werklikheid ’n veel droewiger prentjie skep.

Geregte in ’n restaurant lyk nie soos dié op ’n spyskaart nie. Velprodukte laat jou nié 20 jaar jonger lyk nie. Die wonderwaks vir voertuie verwyder nié tien jaar se weerskade nie.

’n Besoek aan winkels is nie ’n glimlaggende, verdraagsame affêre met trolliewieletjies wat in hul spoor beweeg nie. Nie terwyl diegene wat aanlyn bestellings uitvoer, jou uit die pad skouer nie. Of terwyl die gangetjies tussen die winkelrakke vol is van palette produkte wat nog uitgepak moet word nie. Of terwyl gesinnetjies weke se gesels in die gangetjies inhaal. Of die kassiere en pakker oor jou kop na ’n kollega skree.

’n Verslag van die National Library of Medicine in Amerika dui aan dat hierdie onwaarhede ’n bedreiging vir onder meer geestelike gesondheid inhou.

Dit is so maklik om die (ware) waarheid te bekom: Span dieselfde platforms wat jou bog voer, net anders in. Of lééf die lewe: Kyk van jou skerm op, sien jou ruimte, mense, jouself raak – en besef: Dít is my werklikheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article