Die teenwoordigheid van die son, wat boonop daagliks ’n goeie dosis vitamien D oordra, is vir ons byna vanselfsprekend.

Maar met die winterson wat eers ná 07:00 sy kop agter die koue horison uitsteek, en hier teen 17:30 reeds weer verdwyn, is dit of . . . wel, die son dowwer skyn.

Diegene wat in die mildelike reënseisoen – toe die son vir dae aaneen agter digte grys wolke lyf weggesteek het – en nou met die flouer wintersonnetjie effens trietsig voel, verbeel hulle nie.

Studies bewys dat die blote teenwoordigheid van sonlig die brein se werking aanhelp. ’n Brein wat wakkerder is, verbeter die senuweestelsel, spierfunksie, immuniteit – dié lys raak lank.

Sonder om te wetenskaplik te raak: Om die eerste sonlig “in te drink” het dieselfde effek as ’n behoorlike koppie koffie.

’n Tekort aan natuurlike lig krap ’n mens se ritme om – soortgelyk aan vlugvoosheid.

Hoewel dit ’n denkrigting is wat in Heidi en Peter se land sy oorsprong het, kan ons Saterdag (11/06) aan Wêreldwelstandsdag meedoen.

Stigter Belgin Aksoy, met ’n graad aan die Institute Hotelier Cesar Ritz in Switserland en in die toerisme- en hotelbedryf, het vieringe vir dié dag met die slagspreuk “One day can change your whole life” begin.

Hoewel ’n mens sinies kan vra wat iemand wat elke dag in die Alpe vaskyk en Switserse sjokolade eet, van ontberinge weet, doen kennis selde skade.

“#ThinkMagenta” is die tema vir vanjaar se vieringe, en daardeur word gepoog om kleur in mense se gedagtes op te roep en so ’n positiewe verskil te maak.

Dit kan moeilik wees om die wêreld te verander, sê hulle, maar ons kan wel ons reaksie verander.

In spanningsvolle tye gevul met negatiwiteit stel hulle ’n magenta-kleur vir die spreekwoordelike donker wolk voor. En om te glimlag, ’n uur per dag te stap, meer water te drink, nie plastiekbottels te gebruik nie, gesond te eet, ’n goeie daad te verrig, aandete saam om ’n tafel te eet en om 22:00 te gaan slaap . . .

Of, trek die gordyne oop en laat die son inskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article