Bêre eers die partytjieballonne en sit die sjampanje terug in die yskas – die internasionale dag wat vandeesweek op 19 November oor die wêreld heen gevier word, is grootliks in Suid-Afrika (en ’n paar ander lande) ’n droefgeestige dag so reg in Job se kraal.

Wêreldtoiletdag, jaarliks op 19 November, vind plaas om die bestaan van toilette te vier en om bewusmaking hieroor te kweek by diegene wat nie toegang tot ’n veilige en werkende sanitasiestelsel het nie, sê die Verenigde Nasies (VN).

Volgens un.org is die toegang tot sanitasie ’n mensereg, met “elkeen wat toegang tot ’n toilet moet hê wat veilig, higiënies en privaat is, en wat aan ’n veilige, beheerbare en werkende stelsel gekoppel is wat doeltreffend van riool ontslae kan raak”.

Die VN sê wanneer sulke stelsels onvoldoende, beskadig of stukkend is, veroorsaak dit die verspreiding van dodelike siektes.

Hoef ’n mens verder as ons eie Noord-Kaap vir bewyse te soek van onvoldoende, beskadigde of stukkende riool- en rioolverwerkingstelsels?

Die storie oor cholera in die Vaal- en waarskynlik die Oranjerivier – oor munisipaliteite in die provinsie wat ongeërd rou riool in riviere en ander waterbronne stort – hoef nie herhaal te word nie.

Voeg daarby die gebruik van mankoliekerige puttoilette wat na bewering by meer as 4 000 skole in Suid-Afrika gebruik word, en duisende by huishoudings.

Volgens Sensus 2022 gebruik 4,5% van huishoudings in die Noord-Kaap die emmerstelsel – die hoogste persentasie in die land. Dit ongeag daarvan dat die Suid-Afrikaanse Menseregte­kommissie in 2014 aanbeveel het dat dié stelsel uitgeroei moet word. Dit word glo steeds plek-plek van nuuts af opgerig.

In talle huishoudings met spoeltoilette is water vanaf munisipale krane nie beskikbaar nie – wat dié gerief heel ongerieflik maak.

Dié land het nog ’n pad te stap voor daar saamgevier kan word aan Wêreldtoiletdag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article