NoordkaapBulletin is op Vrydag 2 Augustus as die beste gratis gemeenskapskoerant in die land aangewys.
Dit is ’n heuglike gebeurtenis dat dié publikasie, deur heelparty “die koerantjie” genoem, Noord-Kaapse stof in die oë van die ander finaliste in dié afdeling – van onder meer Gauteng en die Wes-Kaap en van verskeie mediahuise – geskop het.
Die eerbewys is Vrydagaand op ’n toekenningsgeselligheid van die Forum vir Gemeenskapsjoernaliste (FCJ) in Sandton oorhandig.
Hiertydens het Carl van der Riet, uitvoerende hoof van Avbob, gesê dié onderneming is gereed om gemeenskapsmedia vorentoe ook te ondersteun omdat dit ’n platform is om die gemeenskap te bereik.
Avbob is reeds ’n paar jaar lank die hoofborg van dié kompetisie.
Die eerbewyse in verskeie afdelings is oorhandig op ’n tydstip dat daar nog geen uitsluitsel oor die voorgenome verkoop van Media24 se gemeenskapskoerante, die verspreidingsafdeling On the Dot en Soccer Laduma-KickOff aan Novus gegee is nie.
Goedkeuring hiervoor moet eers deur die Mededingingskommissie verskaf word.
Intussen gaan gemeenskapskoerante onverpoosd voort met die basiese taak van die media: om (op gemeenskapsvlak) in te lig, te vermaak, en op te voed.
Dat die gedruktemediabedryf oor die wêreld heen die knie moet buig voor digitale platforms van allerlei aard, is nie nuus nie. Tog behou gemeenskapskoerante, soos dié een, ’n eiesoortigheid.
Benewens dat lesers gratis geloofwaardige nuus uit die gemeenskap ontvang, is die aanbieding daarvan onderworpe aan media-etiek en -regulasies, en bied die advertensies inligting oor onder meer winskopies en betrekkinge in die omgewing.
So anders as soveel digitale platforms wat op ongegronde en onafgeronde inligting gedy, en waar ’n mens nooit weet of die winskopie in Katmandoe of in Kathu beskikbaar is nie.




