Dink ’n bietjie: Is daar ’n straat in jou dorp sonder ’n slaggat; ’n stukkende of omgeryde lamppaal; stukkende sypaadjie-randstene; verstopte stormwaterslote; ’n waterlek; ’n foutiewe verkeerslig of gesteelde stopstraatteken; of ’n hoop rommel?
Is daar ’n straat waarin jy nie daagliks minagting van verkeersreëls waarneem nie – of waar jy jouself nie dalk daaraan skuldig maak nie?
Dit word algemeen aanvaar dat ’n kind se grootwordplek die raamwerk is waarvolgens die kind na alle verwagting sy lewe gaan bou.
Binne hierdie raamwerk word waardes, beginsels, filosofieë en gewoontes gekweek, en word rolmodelle nagevolg.
“Ek probeer my kind vertel dit het nie altyd so gelyk nie,” skryf ’n leser onlangs op die Facebook-blad na aanleiding van nog ’n Noord-Kaapse dorp wat deur sy munisipale bestuur gefaal is.
Hoe verkeerd is dit nie dat vandag se jeug in hierdie munisipale wanorde grootword nie? Dat hulle soveel wat deur plaaslike rade nagelaat word, en ook die vergrype, as “oukei” aanvaar?
Dit wat ’n dorpskind direk buite sy huis beleef en waarneem, is in die meeste gevalle deur die plaaslike raad verpak en saamgestel.
Hoe jammer tog dat baie van hierdie kinders gaan leer om dié voorbeeld te volg.
Juis om hierdie rede moet plaaslike rade hul rol met veel meer verantwoordelikheid speel.
Volgens die webwerf van die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika lei swak dienslewering en die swak bestuur van rade tot die verswakking van bronne, al hoe minder werksmoontlikhede en swakker lewensomstandighede.
Dienslewering is die algehele omvangryke pakket – van die beskikbaarheid van veilige waterbronne, gesondheidsdienste, bruikbare paaie en werkende straatligte tot verkeersbeheer, rommelverwydering, riolering, instandhouding en die omsien na munisipale parke en geriewe vir vryetydbesteding.



