Mag die woorde wat die minister van basiese onderwys Sondag (18/06) gespreek het, werklik gehoor word.

Verwelkomend in Angie Motshekga se toespraak tydens ’n nuuskonferensie oor die jongste verwikkelinge in die basiese onderwyssektor, was haar woorde dat meer gedoen moet word om die gebruik van moedertaal­onderrig in skole aan te moedig “omdat dit goed werk”.

Sy het na ’n studie oor 12 jaar in die Oos-Kaap verwys waarin een groep leerlinge tydens hul hele skoolloopbaan onderrig in Xhosa, hul moedertaal, ontvang het. Hulle het glo veel beter presteer as die groep wat net in Engels, en nie in hul moedertaal nie, onderrig is.

Vele groepe en organisasies is ten gunste van skoolonderrig in ’n moedertaal, maar in die Suid-Afrikaanse kompleksiteit word selfs bevindinge gou onder ’n onderdrukkings­kombersie toegegooi. Veral Afrikaans se stem word gereeld deur die kombersie gedemp.

Volgens AfriForum se webwerf het kenners van die Verenigde Nasies bewys dat langdurige blootstelling aan moedertaal­onderrig die betrokke gemeenskap se gemiddelde vlak van geletterdheid verhoog, terwyl dit die werkloosheidskoers onder hulle verlaag.

Vir ’n ouer om te sê dat ’n kind in Engels onderrig moet word “want dan lê die wêreld vir hom oop,” is ’n wanpersepsie.

Volgens verskeie bronne word bykans ewe veel Mandaryns as Engels gepraat, met Spaans, Hindi en Frans wat die res van die vyf topplekke inneem.

Die wêreld is veel groter as net lande waarin hoofsaaklik Engels gepraat word.

Onderrig in ’n moedertaal kan die kind ’n sterker kennis­grondslag gee, en die kind kan met meer begrip en selfvertroue die wêreld aandurf.

Om nie eens te praat van die beroepsrigtings wat met die gebruik van moedertaalonderrig stimuleer word nie. Tolkdienste, vir een, kan sy regmatige plek inneem en bydra om die wêreld ’n verstaanbare plek te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article