Hulle is waarskynlik in hul vroeë dertigs tot middel-veertigs, en ’n mens merk hulle veral in ’n winkel agter ’n trollie op.
Die voetsleper-trolliehangers.
Hulle is meestal manlik en parkeer gewoonlik die trollie in die middel van die winkelgang terwyl ’n inkopiemetgesel ’n eindelose gesprek met hom of die produk in haar hand voer.
Nie een van die twee kom agter dat hulle die gang versper nie. Nie hy wat met agterstewe links van die trollie hang nie; nie sy wat regs van die trollie haar monoloog voer nie.
Dié voetsleper-trolliehangers lyk moeg en selfs hul broeke hang moedeloos-laag.
Sou hulle dalk professionele sofapokkels wees; dié dat hul rug nie meer kan reguit en regop agter ’n winkeltrollie nie?
’n Mens kan ook nie redeneer dat hulle so hang omdat hulle uitermate lank is nie. Inteendeel.
Dan is daar die sloffie-slepers.
Hulle is gewoonlik vroulik; in die ouderdomsgroep 18 tot 26; meestal in groepies van drie en dra meestal kort kortbroekies.
Hoewel hulle hul sloffies deur die winkelgange voortsleep, sien ’n mens nooit inkopies of ’n inkopiemandjie in hul hande nie.
Terwyl hulle ritmies en sloffend voortsleep, wieg die heupies so effe dramaties.
Dit lyk ook of hul knieë nie kan buig nie, want hulle sleep vorentoe op stokstywe bene. ’n Fyn kuns wat duidelik ingeoefen is.
Met waarneming van hierdie gedrag wonder ’n mens of dit ’n doelbewuste voetgesleep is om die gang van die tyd te vertraag.
Gedagtig aan die waarskynlike ouderdom van die voetslepers gaan dit nog dekades wees voordat hulle as bejaardes dalk ’n werklike rede vir voetgesleep het.
’n Mens kan tog net hoop vir ’n bietjie meer veerkragtigheid in hierdie jongeres se treë; selfs vir ’n bietjie huppel, trippel en wikkel, met die woorde van Antjie Krog se gedig, “Hoe ver is eendag?” op hul lippe: “kom voordat die jonkheid ons begewe; kom, ag kom tog, laat ons lewe.”



