Elektroniese rommel, of e-afval, is die soort rommel wat die meeste en vinnigste in Suid-Afrika toeneem. Slegs 7% tot 12% daarvan word herwin.
Die groot hoeveelheid e-afval wat nié herwin word nie, plaas bykomende druk op vullisterreine oor die land heen – waar munisipaliteite reeds nie die mas opkom met afvalbestuur nie.
Volgens die internasionale forum verbonde aan die bestuur van afval- elektriese en elektroniese toerusting (die WEEE-forum, of “waste electrical and electronic equipment”) genereer elke Suid-Afrikaner gemiddeld 7 kg e-afval per jaar.
Per persoon styg dié hoeveelheid e-afval drasties wanneer ’n jarelange getroue wasmasjien, mikrogolfoond of yskas finaal die gees gee.
Die slagspreuk van vanjaar se Internasionale e-afvaldag, wat op Maandag 14 Oktober plaasgevind het, is “Join the e-waste hunt – retrieve, recycle and revive”.
Elkeen wat al aan hierdie “jagtog” na die herwinning van e-afval deelgeneem het, of graag wil deelneem, ken die verwarring wanneer jy met iets kleins soos ’n stokou, onherstelbare selfoon, ’n stukkende selfoonlaaier en selfs ’n battery in jou hand bo die asblik se bek huiwer. (Verlede jaar was die slagspreuk dat enigiets met ’n prop, battery of kabel herwin kan word.)
Die verwarring is soveel meer wanneer jy na die wasmasjien, wat sy nege lewens geleef en sy kwota van herstelmoontlikhede bereik het, staar.
’n Mens weet iewers is daar ’n plek waar komponente van hierdie artikels herwin kan word. Maar jy wéét in jou gebied bestaan daar nie so ’n plek nie.
Wanneer jy deur die digitale ruimte na plekke soek waar e-afval ingeneem en herwin word, is jy verstom oor die omvang wat dit kan inhou en die talryke geleenthede vir werkskepping wat dit bied.
Die hoop beskaam nie, en ’n mens mag droom oor die dag wanneer die sosio-ekonomiese waarde van e-afvalbestuur en wat dit vir elke dorp en nedersetting kan inhou, gesnap word.



