Woorde wat al hoe meer geuiter word wanneer die lewensjare van huppel na kruppel vorder, is die versugting na die “goeie ou dae”.

Elke geslag uiter soet woorde oor die verlede en bitter woorde oor die hede. (Dit terwyl die een geslag se bitter hede die volgende geslag se soet verlede is, maar dit daar gelaat.)

Met die aanhoor van versugtinge na toeka wil ’n mens jou later verbeel dat dit werklik net verbeelding was; dat die verlede nie so wonderlik was nie.

Daarom was dit ’n verligting om onlangs die politieke ekonoom Jannie Rossouw se artikel op Netwerk24 te lees.

“Ons moenie vergeet nie, daar was ’n tyd toe beurtkrag nie bestaan het nie,” skryf hy.

“Ons vergeet dat munisipaliteite kan funksioneer en dienste lewer.

“Sommige van ons onthou ’n tyd toe slaggate in paaie reggemaak is. Treine het gery, want spore is nie gesteel nie.

“Kabinetslede het hulself in die openbaar gedra en nie op mense geskreeu nie.

“Ons moet hierdie institusionele geheue bewaar en dikwels daaroor praat. As ons van dienslewering en van ’n funksionerende regering vergeet, gaan die huidige chaos ons ‘nuwe normaal’ word.”

Dankie tog. Dan was daardie dinge nie verbeelding nie. Want sou ’n mens daarna voel om droefgeestigheid dik aan te verf, is dit voldoende om net deur bykans enige dorp te ry.

Terwyl die verval aanskou word (en jy jou oë nie wil glo nie), word ’n tyd onthou toe sypaadjies en paaie nie stukkend was nie; water nie in die strate afgestroom het nie; rommel nie dae lank op hope gelê en vrot het nie; mense asblikke gebruik het vir rommel en nie om vuur in te maak nie; en bome op sypaadjies koelte gebied en nie as vuurmaakhout afgebreek is nie.

Worstelend deur die droefgeestigheid van verval wil ’n mens bly hoop dat regerings op alle vlakke, organisasies, inwoners en individue saam met Rossouw wil glo toe hy geskryf het: “Suid-Afrika verdien beter.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article