Die gevolg van die laat-maar-gaan-houding en die gepaardgaande verval van die Noord-Kaapse hoofstad en omliggende dorpe tref soos dolke wanneer jy dit opnuut sien nadat ander horisonne verken is.
Oor die N12 langs Christiana waai die rommel en rook van die munisipale stortingsterrein, waar ’n brand of vyf oënskynlik voortdurend woed, soos voorbodes oor die nasionale pad.
Dié terrein se grens begin en eindig wie weet waar. Vlak teen die N12 woon talle mense in lap-en-sak-huise, wat ’n bestaan uit rommel probeer maak.
Skeefgeryde straatligpale begroet jou vanaf die beginpunt van Warrenton, verby die altyd-tot-oorlopens-vol asblikke by die gebreekte bushaltes, die reuk van riool en verrotting, totdat dié dorpie in die truspieël verdwyn.
Die eerste sintuiglike teken dat jy Kimberley nader, is die verswelgende rioolreuk vanaf Kamfersdam, eens ’n wêreldbekende flaminkparadys, wat jou tref.
Dan wag die res van die hoofstad: geen straatligte wat snags langs die N12 skyn nie – vanaf die afdraai na Kimdustria, oor die treinbrûe met die gate en geen padstrepe, en vir die eerste paar straatblokke in die stad in.
Sou jy ’n verbyganger wees: Geen duidelike padaanwysings oor hoe om deur die stad te ry, sal jou begroet nie.
Ook hier is skeef- of afgeryde pale die norm; oop ruimtes met rommel; gapende openinge waar mangatdeksels gesteel is; stukkende sypaadjies; verkeersligte wat nie werk nie.
Dié verval herhaal hom in Barkly-Wes, Campbell, Upington, De Aar, Keimoes, Kakamas . . . die lys gaan aan.
Ook die voorkoms van so baie private eiendomme spreek van laat-maar-gaan. Armoede? Nee, dit kos geen geld om onkruid uit te trek, of om rommel in jou eie ruimte op te tel nie.
Volgens verywellmind.com is die omsien na jou onmiddellike omgewing deel van selfliefde.
In Februarie, die “maand van liefde”, wees lief vir jouself en verbeter jou leefruimte.

