Soos wat dit met gedenkdae gaan, was dit vir sommiges net nog ’n dag van ’n week; terwyl ander dit op die kalender aangeteken het, en toe beplan, voorberei en uitgevoer het.
Die gedenkdag op die kalender vir verlede week is in November 2009 deur die Verenigde Nasies (VN) as Nelson Mandela- Internasionale Dag verklaar.
Dié dag is 18 Julie, Mandela se geboortedag. Gegrond hierop het die VN boonop in 2014 ’n vyfjaarlikse eerbewys ingestel vir diegene wat hul lewe tot diens van die mensdom wy.
Die eerste ontvangers, ’n jaar later, was dr. Helena Ndume van Namibië en Jorge Fernando Branco Sampaio van Portugal, aldus die VN-webwerf.
Ndume is ’n oogkundige wat ten tye van die toekenning reeds meer as 30 000 Namibiërs kosteloos met oogchirurgie, lensinplantings, die verwydering van katarakte en meer gehelp het.
Sampaio was onder meer ’n vegter vir demokrasie in Portugal, het die vergrype van die land se polisie blootgelê, was tien jaar lank die president, is betrokke by die bevegting van tuberkulose en dwelmmisbruik, en meer.
Vyf jaar later, in 2020, was Marianna Vardinoyannis van Griekeland en dr. Morissanda Kouyaté van Guinee die ontvangers. Hulle fokus onderskeidelik op die bevegting van kinderkanker en die algehele uitwissing van vroulike genitale verminking.
Ter viering van dié gedenkdag het miljoene individue en instellings op 18 Julie uitgereik. Ook in die Noord-Kaap het dit gedy, en die koerant is met foto’s en inligting hieroor oorval.
Soos wat dit met sulke gedenkdae gaan – soos ook met Valentynsdag, Moedersdag, Vadersdag, Kersdag, en nog meer – is dit jammer dat die uitreik tot een dag beperk word.
Dit is jammer dat instellings en departemente wat deur die jaar veronderstel is om ’n diens te lewer, op so ’n dag ook die vaandel van welwillendheid hoog swaai, en dit wat heeljaar as ’n diens gelewer moet word, as welwillendheid bemark.



