Met sterfgevalle is dit steeds ’n vaste reël in die media dat die name van oorledenes nie bekend gemaak word alvorens deur amptelike kanale bevestig is dat die naasbestaandes in kennis gestel is; of voordat nie self met die direkte familielede kontak gemaak is nie.
Dat die name van die twee blitspatrollie-lede wat verlede Dinsdag in Kimberley doodgeskiet is, so vinnig op “groepies” gedeel is, is betreurenswaardig. Dit is so vinnig gedeel dat ’n mens wonder of die naasbestaandes toe reeds die tyding ontvang het.
Verslaggewers van verskillende mediahuise het geweet om nie die name van oorledenes te deel of te publiseer nie alvorens dit amptelik deur die polisie bevestig is.
Net so vinnig is ’n foto en die volle naam van die verdagte gedeel. Ook dit kan nie publiseer word voordat die verdagte ’n eerste verskyning in die hof gemaak het nie.
Is ’n verdagte nog op vrye voet, is dit slegs op inligting en versoek van die polisie dat sy of haar besonderhede publiseer word.
Om die nuus van ’n sterfgeval op die sosiale media te deel is die prerogatief van die familie, of dié van die instelling waarby die oorledene betrokke was, in samewerking met die familie, sê Stef Woods, ’n instrukteur in sosiale media aan ’n universiteit in Amerika.
Hy skryf ook dat buitestanders se nuuskierigheid minder belangrik is as die familie se behoefte aan respek en privaatheid.
“Om presies te wil uitvind wat gebeur het, en om jou ongevraagde mening te gee, gaan nie die feit verander dat iemand oorlede is nie.”
Net so onvanpas is dit om foto’s op ’n ongelukstoneel te neem, veral waar mense dood is, en die foto’s die digitale ruimte in te stuur.
Die sosiale media is deel van ons leefwêreld. Leer om dit met verantwoording te gebruik.
Net soos wat ’n mens soms jou tong in toom moet hou – ’n wag voor jou mond moet plaas – geld dieselfde vir (oorhaastige) vingers wat wild en wakker woorde en foto’s die wêreld instuur.




