In die voortslepende debat en meningstukke oor die toekoms van gedrukte koerante word gereeld klem gelê op die koolstofvoetspoor wat met die sluiting van dié openbare mediums sal verklein.
So asof koerante die grootste sondaar is.
’n Koolstofvoetspoor is, aldus Pharos, die algehele hoeveelheid koolstowwe – hoofsaaklik koolstofdioksied of koolsuurgas, en metaangas – wat deur ’n bepaalde aktiwiteit, of die aktiwiteite van ’n bepaalde individu of groep, tot die aarde se atmosfeer bygevoeg word.
Namate die koolstofvoetspoor van elke aardbewoner groter word, dra dit onder meer tot aardverwarming by – wat op sy beurt stygende seevlakke, meer en intense storms, die uitwissing van spesies en voedselskaarsheid vererger.
Volgens energyeducation.ca is die grootste bydraende faktore tot elkeen se koolstofvoetspoor die vervaardiging van voedsel, dat die mens ’n verbruiker is, vervoer, en die opwekking van huishoudelike energie.
Volgens enelgreenpower.com stel die vervaardiging van ’n katoen-T-hemp 4 kg koolsuurgas vry; ’n paar skoene ongeveer 15 kg; ’n denimbroek 20 kg; ’n skootrekenaar 350 kg; en ’n sedanvoertuig meer as 26 ton.
Die verbouing van voedselsoorte soos appels en piesangs laat ’n koolstofvoetspoor van minder as 1 kg per kilogram van dié produk, terwyl die teel van ’n dier vir vleis van 20 kg tot 60 kg bydra.
Dit beteken nie ons moet net appels en piesangs eet en flenters aantrek nie.
Begin eenvoudig deur te bevraagteken of twee avokadopere werklik in ’n plastiekhouer met plastiek bo-oor verpak moet word; deur op te hou om plastiekbottels met water te koop en deur eerder herbruikbare houers te gebruik; of deur die vraag te vra waarom munisipaliteite hulle geensins aan die herwinning van rommel steur nie.
Intussen sal koerante aanhou om, op hul beurt, die uitdagende vrae te vra – en elkeen wat ’n verskil kan maak tot verantwoording te roep.


