Veerkragtig, elasties, sterk, gehard, taai, geeskragtig.

Dit is die woorde, na aanleiding van die Engelse woord “resilient”, wat Suid-Afrikaners dalk die beste kan beskryf.

Toegegee, daar is dowwe spikkels op die kleurspektrum van die Reënboognasie wat nie die betekenis van die woorde kan of wil uitleef nie, maar die meerderheid van Suid-Afrikaners is glo ’n vriendelike spulletjie.

Hulle maak oogkontak, groet vreemdelinge, knoop maklik geselsies aan, reik ’n hand uit, en ken minstens ’n paar woorde in ’n derde of selfs vierde taal, naas ’n huistaal en ’n tweede taal.

Boonop, wanneer ’n mens in Suid-Afrika bly, is daar min wat ’n mens geskok na asem laat snak. Hierdie ervaring kom oor ’n wye spektrum voor: van die mees makabere moorde wat vir die verstommendste redes gepleeg word; arrogante korrupsie wat met vaste tred en in die naam van bevryding gepleeg word; die verbysterende padgebruik wat veral deur taxi-bestuurders beoefen word; seekoeie, krokodille of wildsbokke wat snags deur dorpe wandel; tot barmhartige Samaritane wat altyd ’n oop hand en hart vir ander het.

Die Franse marknavorser Ipsos het in 2018 aangedui dat Suid-Afrika die derde mees inklusiewe land ter wêreld is (met Kanada en Amerika onderskeidelik eerste en tweede.) Dit beteken in leketaal dat almal op alle vlakke van die samelewing ingesluit word. Oor dié opname kan ’n mens herkou, gedagtig aan ’n 2023-studie van die Universiteit van Harvard waarin bevind is dat Suid-Afrika uiters swak presteer, wat probleme soos ongelykheid en uitsluiting vererger.

Met energievlakke wat vroeg-Desember min is, is dit beter om op Suid-Afrika se positiewe en unieke punte te fokus.

Beleef die gematigde klimaat, vriendelike mense, klomp kulture met unieke kossoorte; hoor die roesemoes van verskillende tale; sien die voëlsoorte raak, wilde diere langs die pad, wye horisonne . . . en beleef Suid-Afrika soos ’n gelukkige toeris.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article