Tydens vroegoggend-staptogte oor die pas afgelope Paas­naweek was die woonbuurte stil.

Geen skoolverkeer; weinig mense op pad werk toe.

Maar in bykans elke straat kom ’n mens hulle teë – dié vroue wat as ’n huishulp die arbeidsmark betree het, en op pad werk toe is.

Hulle is van die ongeveer 76 miljoen huishulpe oor die wêreld heen, aldus Women in Informal Employment: Globalizing and Organizing.

Volgens die International Labour Organization (ILO), wat ongeveer dieselfde aantal huishulpe aandui, word die meeste huishulpe in Suid-Amerika en die Midde-Ooste aangetref, met heelwat minder in Afrika, en die kleinste aantal in Noord-Amerika, Australië en dele van Europa.

Ongeveer 80% van huishulpe, volgens dié webwerwe, is vroue wat hoofsaaklik aangestel word om huis skoon te maak, wasgoed te was en stryk, kinders op te pas, na troeteldiere om te sien, kos te maak en in sommige gevalle bejaardes te versorg.

Oor die wêreld heen word mans in die beroepsgroep ook as tuiniers, motorbestuurders of ’n “butler” aangewend. In Suid-Afrika is dit nie algemeen nie.

Ongeag die groot aantal mense in dié beroep is dit oraloor glo ’n taamlik ongereguleerde bedryf. Na raming is daar eerder ongeveer 100 miljoen huishulpe, met ’n groot aantal wat nie volgens arbeidsregulasies geregistreer is nie. Dit is ’n bedryf waarin werknemers glo die meeste en die maklikste uitgebuit word, met vele leemtes op die front van arbeidswette.

Volgens die ILO lewer huishulpe noodsaaklike dienste en ondersteuning in miljoene huishoudings oor die wêreld heen, en lewer hulle indirek ’n positiewe bydrae tot hul werkgewers se beroepsukses.

“Domestic workers make life work for millions of families,” aldus domesticemployers.org.

In watter mate dra jy daartoe by dat jou huishulp se lewe leefbaar is?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article