Tot 81% van gr. 4-leerlinge in Suid-Afrika kan nie met begrip lees of skryf nie.
Dit is volgens die vyfjaarlikse peiling oor die vordering van leesvaardighede wat deur die Progress in International Reading Literacy Study (Pirls) onder 2021 se gr. 4-leerlinge gedoen is.
Die peiling wys dat leesvaardighede teruggeval het. Teen hierdie tempo beteken dit dat Suid-Afrika nie sy doelwit gaan behaal dat alle kinders van tien jaar oud teen 2030 met begrip kan lees nie.
Dit kan selfs 86 jaar neem om dit te behaal, aldus ’n studie van Universiteit Stellenbosch (US). Die US se navorsing het ook aangetoon dat in sommige provinsies minder as 50% van gr. 1-leerlinge in gratis skole teen die einde van die jaar al die letters in die alfabet ken.
Dit skep ’n agterstand wat moeilik uitgewis word en kring negatief na die begrip van alle skoolvakke uit.
In reaksie op die Pirls-peiling sê die Menseregtekommissie (MRK) dat Suid-Afrika die swakste gevaar het van die 43 lande wat deel daarvan was.
Hoewel die Covid-19-pandemie grootliks die skuld kry, het Suid-Afrika nie juis waffers in vorige vyfjaarlikse peilings gevaar nie.
Die MRK is diep besorg en meen die onvermoë om met begrip te lees of skryf is ’n ernstige struikelblok vir akademiese vordering en self-uitdrukking.
In ’n studie in opdrag van Devex International Development wat aan die Universiteit van Oxford gedoen is, is bevind dat kinders in hul moedertaal moet leer lees en skryf. In die meeste ontwikkelende lande word Engels as onderrigmedium gebruik.
Dié kundiges het lof vir die Suid-Afrikaanse Nal’bali-trust, wat daarop gemik is om ’n liefde vir lees en storievertel in ’n moedertaal te kweek.
Voorts waarsku die kundiges dat die digitalisering van al hoe meer kommunikasie tot laer geletterdheidsvlakke lei. Weens toenemende gebruik van digitale platforms kommunikeer mense al hoe minder direk, en leer as ’t ware af om selfs behoorlik te praat.



