“Dit begin vroegoggend,” skryf sy, “boodskappe omraam met blomme, of deurspek met spykerhakke en krulletters: Gelukkige Vrouedag!”
“Ek is al effens lugtig vir 9 Augustus,” skryf ds. Elmarie Dercksen, ’n NG-leraar, in ’n meningstuk op Netwerk24.
Gedagtig aan die oorsprong van dit wat daartoe gelei het dat Nasionale Vrouedag op dié dag in Suid-Afrika herdenk word, is Dercksen in die kol wanneer sy skryf dat Vrouedag nie veronderstel is om ’n gelukkige gebeurtenis te wees nie.
Vrouedag het sy oorsprong uit 1956 toe meer as 20 000 Suid-Afrikaanse vroue van alle rasse by die Uniegebou in Pretoria uit protes teen paswette byeen gekom het. Daar het hulle ’n petisie met meer as 100 000 handtekeninge oorhandig.
Die vroue het in stilte voor die destydse eerste minister se kantoor gestaan, en toe die proteslied met die aangepaste woorde “Now you have struck a woman, you have struck a rock” gesing. Een van hulle was Frances Baard, ’n bekende naam in die Noord-Kaap.
Nou sal sommige op dié dag hul skouers optrek; ander sal dit tog effens met Valentyns- en Moedersdag verwar.
Lees ’n mens deur verklarings van die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag, is dit duidelik dat vroue op soveel verskillende maniere steeds slagoffers is.
Op dié dag veral, kyk na die vroue om jou. Die huiswerker wat donkeroggend reeds haar huis en gesin agterlaat om haar dag se loon te verdien. Die vrou by die kasregister wat ook PMS kry, wie se kind dalk siek by die huis is. Die stylvolle vrou met duur klere en ’n vol inkopietrollie wie se man haar dalk mishandel.
Sien hul krag, hul trots, dalk hul wanhopigheid. Kyk hulle in die oë, erken hul bestaan, gee ’n glimlag, wat dalk bemoedig.
Die Chileense skrywer Isabel Allende het gesê: “I can promise you that women working together – linked, informed and educated – can bring peace and prosperity to this forsaken planet.”

