In Warrenton moet inwoners al ses maande lank met die feit saamleef dat daar nié water uit die krane gaan vloei nie; dat elke nodige druppel gekoop, aangery en selfs afgesmeek moet word.

Inwoners van Hertzogville het oor die naweek die eerste keer in twee maande weer water in die krane gekry.

Kimberliete het pas vyf dae lank droë krane beleef weens omvattende herstelwerk wat aan lekkende waterpype gedoen moes word – waterpype wat al jare lank lek en selfs panne veroorsaak het.

So kan bykans elke nedersetting, dorp en stad se naam genoem word.

Die luuksheid van water in ’n kraan kan nie as vanselfsprekend gesien word nie.

Ongelukkig is die mensdom se geheue kort oor hoe kosbaar vars water is, en is sy optrede wanneer dit by water kom, redelik troebel.

Die mensdom gaan verstommend onverskillig met dié lewensonderhoudende en lewensnoodsaaklike bron om, aldus National Geographic.

Die mensdom het homself as ’n uiters oneffektiewe verbruiker bewys van die ongeveer 3,5% vars water wat op die planeet beskikbaar is.

Volgens verskeie bronne is meer as 2,5% hiervan boonop nie beskikbaar nie, want dit is in die vorm van gletsers, ysberge, in die atmosfeer as wolke, of te diep in die aarde. Die mensdom het daarom minder as een persent van alle water op aarde en in die atmosfeer tot sy beskikking.

Steeds word dit besoedel en vermors; en word die waarde van vars water selde of ooit genoem.

Te veel water vloei ongebruik deur krane. Waterpype lek te veel, te lank. Besoedeling vind té maklik plaas, met skouers wat té maklik opgetrek word.

Volgens die Fortune Magazine is water die nuwe goud. Soos goud, olie en ander natuurlike hulpbronne, is water ’n kosbare verbruiksartikel.

Maar water is die enigste een waarsonder geen lewende wese kan oorleef nie. Dit is die bron van alle lewe, en daar is geen plaasvervanger nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article