Binne ’n week nadat die tweede Yonder Hartsfees in die Noord-Kaap aangebied word, breek die bekende Loslitdag op Vrydag 2 September aan.
Loslitdag word die afgelope meer as 27 jaar deur die Nasionale Raad van en vir Mense met Gestremdhede (NCPD) aangebied.
Dié organisasie sien al 84 jaar na die behoeftes van mense met alle vorme van gestremdhede om en is slegs van geldinsamelingsveldtogte – soos Loslitdag – en skenkings afhanklik.
Deur onder meer ’n plakker te koop wat op dié dag vertoon word, word meer as 600 nie-regerings- en nie-winsgewende organisasies ondersteun.
Om ’n Loslitdagplakker aan te skaf, of een van die ander artikels wat spesiaal vir die dag gereed gekry is, is nie te veel gevra nie – en dit vereis boonop min betrokkenheid.
Die Yonder Hartsfees in Kimberley, in ons Noord-Kaapse midde, word aangebied om geld in te samel vir onder meer die programme wat by Yonder aangebied word. Yonder is ’n heeltydse en volgehoue projek van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidsvereniging, wat sedert 1966 dienste aan volwassenes met ’n intellektuele gestremdheid lewer.
Die Yonder-sentrum is tot een van die grootste van sy soort in die land uitgebou en daagliks word 260 volwassenes met spesiale behoeftes in 12 verskillende vaardighede opgelei.
Produkte en dienste wat hier gelewer word, is van hoogstaande gehalte.
Van dié 260 volwassenes woon 210 op die terrein, en daar word in al hul behoeftes voorsien.
Vir baie Noord-Kapenaars is Yonder ’n bekende naam, hoewel min “binne-kennis” van die sentrum en sy werkinge het.
Die Yonder Hartsfees het reeds Woensdagaand (24/08) begin en duur tot Sondag.
Woon dié unieke fees van ’n eg Noord-Kaapse instelling by.
“Bring jou hart”, soos die leuse voorstel, en raak werklik betrokke.




