Die tyd van die jaar het weer aangebreek wanneer baie met ’n versugting sê: “Ek wil nog.”

So vinnig soos tyd verbyvlieg, is die woorde skaars geuiter of dit is te laat – te laat vir die ongelooflike skouspel van die Namakwalandse blomseisoen.

Die blomseisoen, enige tyd van einde Julie tot vroeg September, word deur thecuriosjournal.com as kortstondig, onvoorspelbaar en verstommend beskryf. Op dié reisblog word Namakwaland se blomme in dieselfde asem beskryf as die Sakura-seisoen in Japan, wanneer die kersiebome in vroeglente mildelik met bloeisels oortrek is.

Dié reisskrywer vergelyk dit ook met die skouspel van tulpe in Keukenhof in Holland.

Die Namakwalandse kleureprag word deur sa-venues.com as ’n uiters wisselvallige skouspel beskryf.

Die ongeveer 4 000 verskillende plantspesies se saad lê oor die oënskynlik dorre vlaktes en kaal berge deur wind en weer gesaai, in afwagting vir ontkieming – deur wisselende weerstoestande bepaal. Elke jaar het ’n “ander formule en ’n ander verskeidenheid van blomme”.

Weens die tyd dat die meeste blomme te siene is, beskryf cedarberg-travel.com dit as “laatwinterblomme,” eerder as lenteblomme.

Soos namakwa-info.co.za, beklemtoon dié webwerf ook dat die skouspel deur die weer bepaal word.

Die reisblogskrywer lig blomkykers in om nie te dink jy gaan vroegoggend of laatmiddag blomme kyk om die skare mis te loop nie.

“Jy mag dalk net die blomme ook misloop,” skryf sy. Want die blomme “loop saam met die son”. Die delikate blomblaartjies vou toe vir die nag, en gaan oop wanneer die son op hulle skyn.

Dié blomseisoen, uniek aan die Noord-Kaap en ’n deeltjie van die Wes-Kaap, leer die mens ’n paar wyshede: Hou op uitstel; tyd is kortstondig. Elkeen sal op sy tyd blom. Moenie in jou eie, of in iemand anders se son staan nie. Gun elkeen, en jouself, ’n kans in die son.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article