So het 2023 reeds voortgespoed tot Junie, die eerste maand van die winter.

Saam met die ysige asem van die winter veroorsaak die nuutste misdaadstatistieke ’n rilling – en die talle moorde die afgelope tien dae verlig dié rilling geensins nie.

Verlede jaar in dié maand is die laaste Covid-19-regulasies herroep toe daar op 22 Junie onder meer aangekondig is dat maskers nie meer in openbare plekke verpligtend is nie, en dat getalbeperkings nie meer by byeenkomste geld nie.

Ná Covid-19 is daar nog ’n C-woord wat al meer gehoor word: Cholera.

Hieroor kan verantwoordbare amptenare hul hande saamslaan soos hulle wil: Dit is ’n feit so oud soos die mensdom dat cholera deur water met menslike ontlasting besmet, veroorsaak word.

Wanneer die skouers-optrek van munisipaliteite se rioolhantering in ag geneem word, en die hoeveelheid foto’s en verklarings oor Noord-Kaapse munisipaliteite wat hul riool direk in die Vaal- of Oranjerivier laat vloei, kan hierdie C-woord nog groot chaos veroorsaak.

Leer mense dan nooit iets nie, is die vraag.

“Ek is baie bekommerd dat dit lyk asof ons dieselfde foute maak as in 2016,” sê Larry Hogan, ’n voormalige Republikeinse goewerneur en ’n fel kritikus van oudpres. Donald Trump oor ’n politieke proses in Amerika.

“Waarom val mense steeds vir swendelaars?” skryf ene Jan Venter van Bloemfontein in ’n lesersbrief aan Volksblad.

“Om aan te hou verloor, sal altyd die lot wees van ’n arme lot dromers wat sit met ’n verlange na ’n beter toekoms. Val sal hulle val voor swendelaars wat kom met allerlei onrealistiese beloftes van welvaart, rose en maanskyn.”

Met beurtkrag en met moontlik cholera-besmette water wat voor gebruik eers gekook moet word, stap ons Winter 2023 in.

Die mens se aanpasbaarheid en sy ewige hoop sal seker help om daaraan gewoond te raak.

So gewoond soos krewe aan kookwater, lui die spreekwoord.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article