’n Halfmarathon deur die natuurskoon en vars lug van die Kalahari bied ’n unieke bekoring vir deelnemers.
Om meer die geleentheid te bied om dit te beleef, beplan die organiseerders van die Kalahari Red Dune Challenge om dit ’n jaarlikse geleentheid te maak. Dit is op 8 Julie ’n tweede maal aangebied.
“Dit is ’n roete tussen Askham en Vanzylsrus, en kronkel al langs die Kurumanrivier tussen kameeldoringbome deur,” sê Liz-Mari Marais, wat saam Nandi van Wyk die uitdaging as deel van die Askham-boeresportfees gereël het.
Marais was ook ’n deelnemer aan die 10 km-wedren.
Carel Burger van die hardloopklub Upington Crusaders, wat met administrasie en tydhoureëlings betrokke was, sê dit is ’n eenrigtingroete en deelnemers word in voertuie gelaai en op ’n spesifieke afstand vanaf Askham afgelaai.
“Dit is ’n heerlike roete tussen die duine,” sê hy en spreek sy oortuiging uit dat die uitdaging al hoe meer gewild sal raak.
In die mansafdeling van die halfmarathon was Herald Padmaker (1:50:39) eerste oor die eindstreep; met Hendrik Jors (1:55:58) tweede, en Christiaan Beyers (1:59:24) derde.
In die vroueafdeling was Mardré van der Kolf (1:51:29) eerste; met Karla du Plessis (1:51:30) kort op haar hakke; en Emmerentia Niemann (2:00:07) derde.
In die 10 km-kategorie het Gerhardus Afrikaner (47:10) die mansafdeling gewen; Antonie van Heerden (47:48) was tweede; en Jaco Marais (47:59) derde.
Marais (46:25) het die vroueafdeling gewen; Teresa de Villiers (1:37:27) was tweede; en Maryke de Villiers (1:37:27) derde.
Marais, wat ’n goeie tyd behaal het, sê haar sukses lê daarin dat sy “moes hol om klaar te maak” om met die res van haar take by die fees te help.
- Besoek die Facebook-blad Askham Boeresport vir meer inligting.




