Die beskuldigdes in die hooggeregshof in Kimberley.
Die beskuldigdes op 3 Maart in die hooggeregshof in Kimberley. Van links is Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepaone Melato (20). Foto: Charné Kemp Credit: Foto: Charné Kemp

Die staat het op Maandag 3 Maart in die hooggeregshof in Kimberley, in sy derde plaasmoord-hofsitting in die afgelope twee weke, aangevoer drie van die vier aangeklaagdes wat van die moorde op Dan en Breggie Brand en hul dogter, Elzabie Brand, op 26 Julie 2020 verdink word, aan moord skuldig bevind moet word.

Hoewel die staat net omstandigheidsgetuienis het, is die enigste moontlike redelike afleiding dat dié aangeklaagdes die Brands die Sondagmiddag van hul kleinhoewe buite Hartswater aangeval, ontvoer, vermoor en hul lyke versteek het.

Donald Seoleseng (21) en Tshepo Visagie (36), albei van Majaneng; Kgomotso Mpulwana (43) van Rooiwal; en Tsepaone Melato (20) van Pudimoe word elk van drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en regsverydeling aangekla. Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla, en Visagie dat hy ’n skootrekenaar en selfoon verpand het wat aan die oorledenes behoort het.

Realeboga Manyedi, halfbroer van Visagie, het later ’n staatsgetuie geword.

Adv. Adele van Heerden, aanklaer, het in haar slotbetoë aangevoer al vier is in besit van gesteelde selfone, twee skootrekenaars en ’n handsak met persoonlike items van die oorledenes gevind.

Ontken aanklagte

Dan se rooi Nissan Micra en Elzabie se silwer Mazda is ook gesteel. Die polisie het die aangeklaagdes op die aand van 27 Julie in die Mazda aangekeer. Die mans hou vol hulle was op ’n jagtog toe hulle op die motors in die veld afgekom het. Hulle het nie naby die Nissan gegaan nie, en wou net die Mazda, selfone en skootrekenaars verkoop. Mpulwana, in wie se besit een van die Brands se selfone en in wie se huis die gesteelde persoonlike items gevind is, ontken alle aanklagte teen haar.

Van Heerden voer aan daar is genoegsame getuienis oor die Nissan se pap wiel wat hulle wou omruil en van Manyedi wat bewys die beskuldigdes was in besit van die Nissan.

Die Brands het omstreeks 12:00 telefonies met familielede gesels. Hulle is om 13:00 ontvoer en vasgebind, en teen 15:00 was hul lyke reeds in die veld gegooi – die tyd toe die staats­getuie gevra is om te help om die lyke te versteek.

Die staat gee toe dat hy nie kan bewys Mpulwana het soos die drie mans met ’n gemeenskaplike doel aan die moorde deelgeneem nie, maar sy kan aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind word. Tydens haar inhegtenisname is ’n selfoon by Mpulwana gevind waarop foto’s van haar, en die Brand-gesin, was. Getuienis toon ook Mpulwana wou die Mazda verkoop.

Regter Cordelia Kgopa sal na verwagting hierdie week uitspraak lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article