Hier aan die einde van die jaar wil ek graag my hoed afhaal vir ’n klompie mense, en vir ’n paar ander wil ek my hoed oor my oë trek.

Vir almal wat opreg en hard en eerlik gewerk het in 2023 – my hoed af vir julle. In besonder vir hulle wat werk terwyl ander rus en vir hulle wat nooddienste verrig sodat ander kan rus.

Ek wil my hoed oor my oë trek vir elkeen wat beterweterig was, maar te lui om self ’n verskil te maak.

Ek wil my hoed afhaal vir hulle wat met kinders gewerk het en hul lewe makliker gemaak het en hulle toegelaat het om kinders te wees.

Ek wil my hoed oor my oë trek en sommer vies wees vir elkeen wat ’n kind te na gekom het, hartseer gemaak het of onnodig swaar laat kry het. Dieselfde geld vir bejaardes en mense met gestremdhede.

So wil ek my hoed afhaal vir elkeen wat goed gedoen het aan ’n ander en mooi met hulle was; en my hoed oor my oë trek vir elkeen wat ’n ander ’n onreg aangedoen het. Hoed af vir hulle wat mooi was, en skaam namens hulle wat lelik was.

Vir almal wat iewers êrens in iemand se lewe ’n positiewe verskil gemaak het – ek haal my hoef af vir jou.

Ons staan aan die einde van ’n jaar en aan die begin van ’n nuwe. Besluit sommer self waar haal jy jou hoed af en waar trek jy dit oor jou oë.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article