Die herstelwerk aan Keimoes se bekendste baken, die waterwiel in die kanaal langs die hoofstraat, is afgehandel.
Sodra die rekening vir die herstelwerk hiervan deur die Kai !Garib-munisipaliteit vereffen is, sal die private ingenieursonderneming waar die herstelwerk gedoen is die waterwiel figuurlik gesproke oorhandig om op sy plek opgerig te word.
Oprigting sal met behulp van ’n hyskraan van die munisipaliteit gedoen moet word, aangesien die waterwiel ’n swaar ysterkonstruksie is.
Die waterwiel is in die tweede week van Augustus deur die munisipaliteit afgehaal nadat die rollaers en ’n deel van die as ingegee het. Dit het veroorsaak dat die waterwiel in die kanaal ingesak het en nie meer kon draai nie.
Volgens inwoners was dit reeds ’n geruime tyd duidelik dat herstelwerk aan die waterwiel, wat in 1978 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, nodig is.
Toestemming is egter nie deur die munisipaliteit aan onder andere AfriForum verleen om dit te doen nie.
Nadat die munisipaliteit die waterwiel afgehaal het, het dit ongeveer drie weke by die munisipaliteit se werkswinkel gelê voordat dit onlangs na die private onderneming vir herstelwerk vervoer is.
’n Inwoner van Keimoes sê dit is jammer dat ’n hele blommeseisoen se toeriste nou deur die dorp moes ry sonder om die waterwiel te kon afneem.





