John-Ross Henderson se regspan het op Woensdag 18 Desember, kort ná sy tweede borgtogaansoek in die landdroshof in Kimberley geweier is, aangedui dat hy hierteen gaan appèlleer.
Henderson, gewese polisieman wat van onderskeidelik moord en poging tot moord op Jayson Afrique, en sy vrou, Michayla, aangekla word, se tweede borgtogaansoek is met nuwe feite aan die hof voorgelê.
Dié nuutste uitspraak beteken dat Henderson sy Kersfees en Nuwejaar agter tralies gaan deurbring terwyl sy regspan die appèlaansoek na die hooggeregshof gaan voorberei.
Streeklanddros Jan Brits het bevind Henderson het nie nuwe feite bewys nie. Dit was meer beweringe en hoorsê, en geen stawende bewyse is ingedien nie.
Die Afrique-egpaar is op 31 Julie na 20:00 buite hul huis in New Park voorgelê, en volgens die staat is tien skote op hulle geskiet. Afrique het vier skietwonde gehad. Die staat voer aan die skieter het die egpaar eers agtergevolg voordat daar op hulle losgebrand is kort voordat hulle met hul bakkie by hul woonkompleks wou inry.
Henderson se selfoon met sy vingerafdruk daarop is naby die egpaar se bakkie op die misdaadtoneel gevind. Die staat voer aan Henderson se klagte die volgende dag by die polisie dat sy foon by ? vulstasiekafee verlore gegaan het, is ? rookskerm.
Henderson is op 20 September in hegtenis geneem en voer sedertdien ’n stryd om borgtog te kry. Die staat se saak steun op Henderson se selfoon met sy vingerafdrukke wat op die grond by die bakkie op die toneel gevind is.
Die staat voer aan nadat hy besef het sy foon is verlore, het hy na ’n vulstasie gegaan waar die kringtelevisie hom opgeneem het. Volgens sy klagte by die polisiekantoor die volgende dag het sy foon daar verlore geraak toe hy ’n koeldrank gaan koop het. Die staat meen dis ’n rookskerm om sy verlore foon te verklaar.
In sy tweede aansoek om borgtog het hy self getuig en vir die eerste keer sy teenwoordigheid op die moordtoneel onthul. Na bewering was hy as ’n sekuriteitswag op patrollie in die omgewing, het van die voorval op die roepradio verneem en daarheen beweeg. Hy het ’n skets van die misdaadtoneel by die hof ingedien as deel van sy verweer dat daar met bewyse gepeuter is. Henderson voer aan van die skote is vanuit die voertuig geskiet, nie net van buite af nie. Hy het ’n koeldrankblik en drie worsrol-wegneemetehouers langs die passasiersdeur van die egpaar se bakkie gesien.
Henderson het getuig hy was 17 m van die bakkie toe hy op die toneel was. Landdros Brits het bevind dat die selfoon nie op sy eie 17 m nader aan die bakkie kon beweeg nie. Henderson het geen tydlyn verskaf van wanneer hy op die toneel was nie, of hoe gevorderd die polisie met hul fynkamming van die toneel was nie. Die polisie se getuienis oor die toneel is ook nie betwyfel nie.
Ross Kirby Henderson, pa van Henderson, het getuig hy is ná sy seun se inhegtenisname na die polisie se SAPD 13-eiendomstoor om self die koeëlgate in die bakkie te ondersoek. Daar gekom het die polisielede aan hom gesê dit is deur die eienaar kom haal en na die paneelkloppers gebring. Die eienaar van die paneelkloppers wou nie besonderhede verskaf oor die versekeraar wat vir die bakkie se herstel betaal nie. Die eienaar wou ook nie die werkskaart verskaf wat die herstelwerk beskryf wat aan die bakkie gedoen is nie.
Hy dring aan op hoorsê-getuienis van informante dat die bakkie aanboordkameras gehad het, wat nou vermis is. Een van die polisielede het glo ook die selfoon op die toneel opgetel. Die staat het albei stellings verwerp.
Brits het bevind die ondersoekbeampte het getuig oor hoe die misdaadtoneel hanteer is. Henderson het nie in sy getuienis vertel hoe die selfoon verlore gegaan het nie, nog minder het hy enige verklarings hieroor ingedien.
Sy borgtog is geweier want hy het nie oortuigende nuwe feite bewys nie.
Die saak is tot 13 Januarie uitgestel.




