John Ross Henderson, die gewese polisieman wat van moord en poging tot moord aangekla word nadat daar op Jayson Afrique en sy vrou, Michayla, geskiet is, het op Maandag 25 November met ’n virtuele hofverskyning in Kimberley aangedui hy gaan weer aansoek om borgtog doen, gegrond op nuwe feite.
Sy eerste aansoek is op 4 Oktober afgekeur. Hy het nie daarteen geappelleer nie.
Intussen sê die staat hulle soek steeds na nog ’n verdagte.
Kago Barnett, aanklaer, het aansoek gedoen dat die saak na 2025 vir verdere ondersoek uitgestel word.
Die hofsaal was soos voorheen vol mense, maar nie so volgepak soos met die eerste borgtoguitspraak nie. Tog het gewapende polisiemanne die hofsaal en sy uitgange bewaak.
Henderson het virtueel vanuit die gevangenis op ’n TV-skerm in die hofsaal verskyn.
Hy is op 20 September op aanklagte van moord en poging tot moord in hegtenis geneem ná ’n tweemaandelange ondersoek rakende die voorval in New Park op 31 Julie vanjaar.
Die skieter het na bewering vir Jayson en Michayla ná 20:00 voor die sekuriteitshek van hul woonkompleks ingewag en tien skote na die passasierskant van hul voertuig afgevuur.
Jayson wat sy vrou probeer beskerm het, is vier keer in sy kop, arms en bolyf raakgeskiet.
Hy het luidens die nadoodse verslaglykskouing 14 beserings gehad. Michayla, wat geringe beserings opgedoen het, kan nie die skieter eien nie.
Die staat het Henderson met die voorval verbind nadat sy selfoon, met sy vingerafdruk daarop, op die toneel gevind is.
Hy het die volgende dag sy foon as gesteel aangemeld, maar die staat meen dit is ’n rookskerm vir sy betrokkenheid by die moord. Beeldmateriaal van die vulstasie waar die selfoon glo minder as twee ure ná die voorval “weggeraak” het, toon persone met wie Henderson interaksie het, en dat hy glo “doelloos” in die kafee rondloop sonder om iets te koop.
Landdros G. Plaatje het in haar vorige uitspraak bevind dat Henderson geen uitsonderlike en buitengewone omstandighede kom bewys wat sy vrylating op borgtog regverdig nie.
Sy het gesê enige ander aangehoudene het, soos hy, ook gesinne en besighede wat sonder hulle moet klaarkom.
Barnett het Maandag gesê al die getuieverklarings is afgeneem, maar sekere aspekte moet nog opgeklaar word. Vier van die maatskappye wat getuienis moet verskaf, het dit gedoen ingevolge art. 2505 van die Strafproseswet.
Henderson is in 2017 terwyl hy nog ’n polisielid was, aangekla van ’n gewapende roof by ’n supermark, maar die verhoor is onafgehandel nadat die betrokke landdros oorlede is. Die Direkteur van Openbare Vervolging moet besluit of die verhoor van nuuts af moet begin.
Herholdt Robinson, Henderson se regsverteenwoordiger, het beswaar gemaak teen die lang uitstel van die saak en gesê die saak se ondersoek behoort voltooi te wees.
Hulle wil toegang tot die voertuig hê om ’n ballistiese ondersoek te doen.
Henderson se nuwe borgtogaansoek word vandag aangehoor en die saak is tot 13 Januarie uitgestel.





