Kinders, met mediese toestande wat wissel van serebrale gestremdheid tot spina bifida, woon permanent in die Helen Bishop-huis.
Personeel is 24 uur per dag nodig, en die kinders moet gevoer en versorg word – doeke moet onder meer geruil word, en hulle moet gebad en aangetrek word. Hulle kan ook nie op hul eie in hul rolstoele beweeg nie.
As ’n geldinsamelingsgeleentheid word ’n Valentynsdans-en-ete op Vrydag 21 Februarie van 18:00 in die saal by die Helen Bishop-huis aangebied, in samewerking met Metropolitan Life.
Desiree Langley, ’n werknemer by Metropolitan Life en vrywilliger gemoeid met korporatiewe maatskaplike belegging (CSI) by Helen Bishop, sê die nood by die tehuis is groot.
Benewens om met die aanbieding van die Valentynsgeleentheid betrokke te raak, kan hulp op ander maniere verleen word, soos die gereelde skenking van doeke wat elk van die inwoners benodig. Langley is al jare lank as vrywilliger betrokke.T
Tony Mampuru, streeksbestuurder van Metropolitan Life in die Noord-Kaap, het onlangs ’n skrywe aan ondernemings gerig om betrokke te raak in die aanbieding van dié Valentynsgeleentheid. Hy skryf dit is ’n ideale geleentheid vir ondernemings om ’n reputasie en handelsmerk te versterk, en om ’n positiewe invloed op dié inwoners se lewe te hê.
Om by die Valentynsgeleentheid betrokke te raak, of om kaartjies te koop, kontak Langley by 083-783-3706 of per e-pos by desiree.langley@metropolitan.co.za, of bel Chrissie Damon, bestuurder by Helen Bishop, by 083-286-4222.





