Die man op ’n voertuig se dak in ’n oorstroomde duikweg in Kimberley is deur Marius Müller uit die water gedra.

Foto’s: Verskaf / video-skermgrepe

“Dit vat ’n plumber om sulke probleempies op te los…”

Dié kommentaar op Facebook som die situasie akkuraat op in ’n video wat wys hoe ’n man op Sondag 7 April van ’n voertuig se dak gered is nadat dit in ’n oorstroomde duikweg in Kimberley tot stilstand gekom het.

Met die hewige reën wat Sondag in die Noord-Kaapse hoofstad uitgesak het, het dié diep duikweg in Centralweg tussen Beaconsfield en Greenside oorstroom.

Soos voorheen by hierdie duikweg, en ook die een in Hullstraat, misgis motoriste hulle met die diepte van die water, en probeer daardeur ry.

Sondag het die bestuurder van die voertuig op die video hom ook misgis, en in ’n ommesientjie was sy voertuig tot net onder die dak deur water ingeneem. Die bestuurder kon glo uitspring voordat die water die voertuig algeheel ingeneem het, maar sy passassier was nie so gelukkig nie en hy het op die dak geklim omdat hy nie kan swem nie.

Marius Müller (35) van Müller’s Plumbing Kimberley vertel hy en sy kinders het Sondagoggend gou iewers heen gery, en by die duikweg ’n samedromming van mense gesien. Lede van die brandweer en polisie was glo ook reeds op die toneel.

Op sy navraag oor wat aangaan, is Müller ingelig dat die passasier – die man op die voertuig se dak – nie kan swem nie, en dat planne nog beraam word oor hoe om hom en die voertuig uit te kry. Die man het glo toe reeds ongeveer ’n halfuur of driekwart-uur op die dak gesit.

Müller vertel hy het vinnig besluit.

“Moenie worrie nie, ek sal soontoe uitswem,” het hy gesê en in die water ingestap.

Op die video wat vanaf die treinbrug oor die duikweg geneem is, word kinders gehoor wat Müller luid toejuig.

“Jislaaik!”, “Mooi gedaan”, “Yes, man!” en “Dankie, Uncle” word tussen handeklap en gelag gehoor. Hulle vra hom ook wat sy naam is.

Een het selfs voorgestel dat Müller moet “terugswem” om ook die voertuig uit die water te kry.

Volgens Müller was die man wat hy van die voertuig se dak afgehaal het, “bewerig” van koue en angs; juis omdat hy nie kan swem nie.

Müller is ’n gebore Kimberliet, en ná jare in die Paarl het hulle teruggetrek na Kimberley, waar hy die laaste drie jaar van sy skoolloopbaan ’n leerling aan die Hoërskool Noord-Kaap was.

Op verskeie plasings op Facebook word sy heldhaftigheid geprys.

Van die kommentaar is:

“Baie dankie, Marius. Ons anders is bang vir water jong. Ons kan nie swem nie, net ’n bietjie water maak ons vreeslik bang. God seën.”

“This is humanity at its best. God bless you sir.”

Ander kritiseer diegene wat die man op die dak met hul kommentaar “boelie”; en wat outomaties aanneem dat hy die bestuurder was.

“Why bully the guy so much with how stupid or dom he was to doing what he did. We all did something daring and made mistakes over and over again until we learnt from it. Gladly he was assisted and taken out of danger,” skryf ’n Facebook-gebruiker.

Op sy webwerf waarsku Arrive Alive motoriste om nie sommer deur water te ry nie, veral as jy nie weet hoe diep dit is nie. Indien jou voertuig deur water ingeneem word, sluit die deure oop en draai die vensters heeltemal af sodat jy daardeur kan uitklim.

Indien jy nie die vensters afdraai nie, sal die waterdruk van buite later verhoed dat jy dit oopkry.

Besoek arrivealive.co.za vir nog veiligheidswenke wanneer jy op die pad is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article